Kenmerke van ‘n kulte deur Dr. HG Stoker (enkele bywerkings deur Dr. HF van Wyk).

Wanneer mens met verskillende lede van dieselfde kulte-groep (byvoorbeeld Jehovah-getuies) gesels, kom mens gou agter dat hulle baie dieselfde reageer en antwoord op dinge wat aan hul gestel word – so asof hul almal dieselfde afgerig is. Wanneer hulle daarna gevra word, Antwoord hulle trots dat dit wêreldwyd so is. Hulle is nie onderling verdeel soos die Christelike kerke nie, maar hulle is ‘n eenheid. Soos ‘n Jehovah-getuie jou in Suid-Afrika antwoord, so sal een jou in enige deel van die wêreld antwoord. Selfs die terme wat gebruik word sal ooreenstem. Dit is egter nie net ten opsigte van hul leer dat hul so eenders klink (selfs ook met die voorbeelde ter opheldering wat hul gebruik) nie. Ook hul gedrag en hul manier van praat stem ooreen. Selfs hul kleredrag stem ooreen. Wanneer Jehovah-getuie-mans straatwerk doen, het hul ‘n netjiese langbroek, hemp en das aan. Mormone kan mens weer uitken aan hul swart broek, wit hemp, das en naamplaatjie. ‘n Groep soos die Hare Krishnas is natuurlik maklik uitkenbaar aan die kaalgeskeerde kop met die “poniestert” daarop en die lang kleed wat gedra word. Hoe meer mens met mense uit verskillende kulte-groepe te doen het, hoe meer dring die besef tot mens deur dat hierdie mense baie dieselfde voel, dink, optree, praat, kennis het, leef en glo. Hul lede kom uit verskillende agtergronde – ryk en arm, geleerd en ongeletterd, oud en jonk, wit en bruin en swart, manlik en vroulik. Hul verskil van mekaar, maar is tog so eenders as dit by hul godsdiensuitlewing en die daaruit vloeiende alledaagse lewe kom. Al hoe dit verklaar kan word is dat hul godsdiensorganisasie ‘n onnatuurlik sterk beheersende mag oor sy mense moet hê.

‘N DEFINISIE?

Hierdie uiteenlopende godsdienstige organisasies wat elk op sy manier ‘n oorheersende greep op sy lede het, word vandag in die Engelse (eerder Amerikaanse) apologetiese literatuur met die term “cults” (Afrikaans = `kultes’) beskryf1. In haar boek “Another Gospel” (1989:15) skryf prof. Ruth Tucker dat die woord “cult” ‘n algemeen aanvaarde woord geword het. Dit is volgens haar onmoontlik om oor die onderwerp van onortodokse godsdienste te werk, sonder om die woord `kulte’ te gebruik. Dat die term “cult” vir die engelstaliges geen onbekende woord meer is nie, blyk duidelik uit die titels van boeke wat vandag op die rakke staan soos: “The cults are coming”; “The new cults”; “The cult explosion”; “Dealing with destructive cults”; “Combatting cult mind control”; “Youth, Brainwashing, and the extremist cults”; “The chaos of cults”; ens. Dat daar ook al hoemeer duidelikheid kom watter groepe onder die term `kulte’ saamgevat moet word, kan uit die behandeling van dieselfde groepe deur boeke met die woord “cults” in hul titels, gesien word. In Afrikaans word die kulte-groepe egter nog onder die breër term `sektes’ geplaas. So behandel Dr. Ja. J. Müller in sy boek “Die vernaamste sektes in ons land” (1970) die Jehovah-getuies en “Christian Science”, saam met die sg. “Pinkstersektes” soos die Apostoliese Geloofsending, Volle- Evangelie-kerk en Pinkster Protestantse kerk. Dat daar ‘n radikale verskil tussen die (soos hy dit noem) Pinkstersektes en groepe soos die Jehovah-getuies en “Christian Science” is, blyk byvoorbeeld daaruit dat die tradisionele Afrikaanse kerke wel die Pinkstersektes as geloofsgenote erken (byvoorbeeld ook hul doop erken), maar nie groepe soos die Jehovah-getuies as waarlik Christene beskou nie. Soos in Engels het ‘n fyner onderskeid in Afrikaans tussen Christelike sektes en sogenaamde Christelike (maar eerder anti-christelike) kultes dus ook nodig geword2. Die probleem waarvoor ons nou te staan kom is om die term `kulte’ duidelik te definieer. Dat daar duidelike ooreenkomste tussen die kulte-groepe bestaan, sal mettertyd uitgewys word. ‘n Enkele definisie van ‘n kulte is egter baie moeilik. Die definisies wat wel bestaan lê die klem op verskillende sake:SC20130102-152341

Prof. Charles Braden definieer in die voorwoord van sy boek “These also believe” (19:xii) ‘n kulte as enige godsdienstige groep wat betekenisvol verskil in een of meer aspekte van geloof of gebruik, van daardie godsdienstige groepe wat gesien word as die normatiewe uitdrukking van godsdiens in ons totale kultuur. Hoewel dit so is dat ‘n kulte in geloof en gebruik verskil van die sogenaamde “normatiewe uitdrukking van godsdiens” in die totale kultuur, is dit wat Braden hier sê nie ‘n definisie van die groepe wat gewoonlik as kulte beskryf word nie. Wat as “normatiewe uitdrukking van godsdiens” beskou word verskil van land tot land. So sal die Christendom in Islamitiese lande volgens hierdie definisie ook as kulte beskou kan word. Buitendien is wat “normatief” is vloeiend. Kan die Mormone en Jehovah-getuies nie al deur hul getalle aanspraak daarop maak dat hul ook ‘n “normatiewe uitdrukking van godsdiens in ons totale kultuur” geword het nie? Dr. Walter Martin se beskrywing van ‘n kulte as ‘n groep mense wat om ‘n spesifieke persoon of persone se interpretasie van die Bybel vergader is (1968:11) kan ook nie net so gebruik word nie. Hoewel mens verstaan wat Martin daardeur wil sê, kan deur die kulte geargumenteer word dat die Calviniste ook om ‘n spesifieke persoon (Calvyn) se interpretasie van die Bybel vergader is3. In sy boek “Rise of the cults” (1977:11) definieer Martin ‘n kulte volgens sy afwykende leerstellings: ‘n Kulte is ‘n godsdienstige groep wat in enige basiese opsig afwyk van die kardinale leerstellingsvan die Christelike geloof (hierby moet mens seker sê: `maar steeds voorgee om Christelik te wees’). ‘n Definisie wat baie dieselfde lyne volg is die van Dr. Gordon Lewis, wat ‘n kulte sien as enige godsdienstige beweging wat daarop aanspraak maak dat hul deur Christus of die Bybel ondersteun word, maar die sentrale boodskap van die Christendom verwring deur 1) ‘n addisionele openbaring en deur 2) ‘n fundamentele geloofswaarheid te vervang met ‘n sekondêre saak. Rand Wagters, direkteur van Bet-el Ministeries (‘n organisasie wat uitreik na mense in die kulte), definieer in hul nuusbrief van Nov-Des. 1986 ‘n kulte kort en kragtig as ‘n godsdienstige organisasie, gesentreer rondom ‘n mens of groep van mense, wat aanspraak daarop maak dat hy / hul God se eksklusiewe kanaal is om die waarheid aan die mensdom te bring. Selfs met die laaste definisie waarmee ten volle saamgegaan kan word, sit ons steeds met die probleem dat ‘n hele klomp fasette van kulte-wees nie daarin ondervang is nie.

708_False_20Doctrine-001Soos Brooks Alexander in sy artikel “What is a cult” (1979) stel dat nog ‘n definisie gebaseer op afwykings van die Christelike ortodokse leer, nog ‘n definisie gebaseer op tegnieke van gedragsmanipulasie of – kondisionering omvattend genoeg is om alles te dek. Pogings om ‘n meer omvattende definisie te gee vind ons by Martin in sy latere werk “The New Cults” (1980:16) en Tucker (1989:16). Martin definieer ‘n kulte hier as ‘n godsdienstige groep wat rondom ‘n leier of ‘n groep leiers vergader is wat die basiese Bybelse leerstellings verwerp of verkeerd interpreteer. Die meeste kultes het ‘n enkele leier, of ‘n opeenvolging van leiers, wat daarop aanspraak maak dat hul die stem van God hier op aarde verteenwoordig en meer gesag as die Bybel het. Tog maak hul daarop aanspraak dat hul leerstellings in ooreenstemming met die Bybel is, al verwerp hul een of meer kardinale leerstellings van die Skrif. Lede moet blindelings al die leerstellings van die groep aanvaar om nie in God se slegte boekies te kom nie en gewoonlik uit die groep geskop te word nie. Tucker stel in haar uitgebreide definisie dat ‘n kulte ‘n godsdienstige groep is wat ‘n “profetiese”- stigter het wat deur God geroep is om ‘n spesiale boodskap, wat nie in die Bybel self gevind word nie, deur te gee. Om dit “gesagvol” te kan doen is die leierskapstyl outoritêr, word die organisasie as eksklusief gesien en word dit alles bevestig deur ‘n wettiese lewenstyl en ‘n vervolging mentaliteit. Tucker stel dan dat daar nog baie ander `kulte’ kenmerke is, maar dat bogenoemde genoegsaam is om groepe soos die Mormone, Jehovah-getuies, Sewendedag-adventiste, Christian Science, die Unification Church en The Way International te beskryf. By hierdie lys kan ons self nog groepe voeg soos die Moonies, die Peoples Temple (Jim Jones), die Katolieke Apostelgroepe (soos Ou Apostels, Nuwe Apostels, Apostel-eenheid), die World Wide Church of God (Herbert W. Amstrong) ens. Wat opvallend is, is dat ons in die loop van enkele definisies ‘n hele klomp kenmerke van ‘n godsdienstige kulte gekry het. Die sleutel wat al hierdie kenmerke tot een geheel saamvoeg vind mens in die definisie van Watters, naamlik dat al hierdie godsdienstige groepe gesentreer is rondom ‘n leier of leiers wat daarop aanspraak maak dat hy / hul God se eksklusiewe kanaal is om die Goddelike waarheid aan die mensdom te bring. Hieruit volg dan nie net logies dat die lede se leerstellings deur die leier(s) bepaal word nie, maar ook hul gedrag, hul denke, hul inligting, selfs hul emosies, hul taal, hul lewenskode, hul seining van God en hul organisasie, hul verlossing, hul metode van Skrifverklaring en selfs hul perspektief op die geskiedenis (wat hul eie geskiedenis insluit). Die lede is dus in ‘n sekere sin ‘n gevangene van die leier(s), omdat laasgenoemde met “goddelike” gesag enigiets vir hul kan sê en hulle dit moet gehoorsaam ter wille van hul eie saligheid en hul goeie verhouding met hul Skepper.

 KENMERKE VAN ‘N KULTE:

‘n Baanbrekerswerk oor die kenmerke van die kultes is die 1961 boek van dr. Robert Jay Lifton “Thought Reform and the Psychology of Totalism”, met as onderskrif “A study of `brainwashing’ in China”. In hierdie boek het Lifton sy navorsing saamgevat oor die wyse waarop die Sjinese kommuniste ‘n radikale verandering van lewens- en wêreldbeskouing onder hul Amerikaanse krygsgevangenes laat plaasvind het. In hoofstuk 22 (pp. 419-437) gee Lifton 8 kenmerke wat ook vir godsdienstige kultes geld. (My verduideliking telkens):

1) “Milieu Control” – Beheer lede se omgewing, veral deur een of ander vorm van isolasie. Kontak met ex-lede en kritiese materiaal word ontmoedig of selfs verbied. Geselekteerde inligting word deurgegee.

2) “Mystical Manipulation” – Iets mistiek kleef aan die kulte. In ‘n godsdienstige kulte is dit omdat God immer teenwoordig in die organisasie en sy werk is. Om gehoorsaam aan die organisasie te wees is om gehoorsaam aan God te wees. Om met die organisasie te verskil is om van God te verskil.

3) “Demands for Purity” – Alles is wit of swart, reg of verkeerd. Of iets goed is hang af van die verhouding wat dit met die kulte het. Daar is nie juis plek vir persoonlike besluite nie. Die lede word deur skuldgevoelens beheer. Reinheid kom deur deel te word van die ideologie van die kulte.

4) “The cult of confession” – Ernstige sondes (soos deur die organisasie gedefinieer) moet onmiddellik bely word. Mens moet ook ander lede rapporteer wat strydig met die regulasies optree. Deur die sondebelydenis word ‘n “een wees” met die groep geskep. Die leiers het ook nou ‘n sweep (kennis van hul sondes) om die lede aan te jaag.

5) “The sacred science” – Die leerstellings van die kulte is te heilig om bevraagteken te word. Aanspraak word ook gemaak op waterdigte logika, sodat die leerstellings die skyn verkry van absolute waarheid waarteen geen weersprekings moontlik is nie. So ‘n aanloklike sisteem bied natuurlik sekerheid en sekuriteit.

6) “Loading the language” – Hier wys Lifton op die gebruik van etiketerende terme (“thoughtterminating clichés”) waarmee ‘n einde aan ‘n gesprek of kontroversie gemaak word. Polities sluit dit terme in soos “kapitalis” en “imperialis”. Godsdienstig kan dit terme wees soos “wêrelds” en “apostates”.

7) “Doctrine over person” – Eie gevoelens moet buig voor die doel van alles (naamlik die Sjinees-kommunistiese heilstaat). Hieruit volg dat logiese eie beskouinge verander moet word as dit in stryd is met die kulte-ideologie. Eie ondervinding is ondergeskik aan die leer. Die geskiedenis van die kulte word verander om by hul leerstellige logika in te pas.

8) “Dispensing of existence” – As mens nie deel van die “people” is nie, is mens volgens die Sjinese kommuniste “outside the people”, dit wil sê “nonpeople”. Die kulte besluit dus wie die reg het om te bestaan en wie nie; wie vernietig sal word by die finale oorlog en wie nie; wie deel van God se organisasie is en wie nie; watter geskiedenisboeke akkuraat is en wat nie; dat buitestaanders mislei kan word ens.

Martin (1980: 17-21) gee tien kenmerke van ‘n kulte:

1) Oorsprong: Gewoonlik ‘n sterk leier wat aanspraak maak dat hy in opdrag van God of met Goddelike gesag optree.

2) Bybel: Het gesagvolle geskrifte wat byvoeg by die Bybel of daaraan verander.

3) Lidmaatskap: Vaste standaarde vir lidmaatskap en buitengewone tug. As uitgeskop word verloor lid sy vriende en familie, sy doel in die lewe en God se goedkeuring.

4) Faktore aanwesig in kultes is so dieselfde dat dit gebeur dat iemand uit een kulte kom net om weer betrokke by ‘n ander een te word.

5) Evangelisasie-aktiwiteite: Dit is die merk van ‘n ware toegewyde lid. Hierby gaan die belangrikheid van “verdienste” van saligheid (al word dit soms ontken).

6) Leiers: Selfverkore leiers (deur “innerlike” openbaring) wat min of geen teologiese opleiding het nie.

7) Nuwe openbaringe: Verandering in leerstellings en gebruike kom voor soos die leier(s) “nuwe lig” ontvang.

8) Voortgaande openbaringe: Omdat God deur die kulte met die mensdom kommunikeer, kan die “nuwe lig” selfs teenstrydig wees met God se “eerste” openbaring, die Bybel.

9) Herstel van die ware Christendom: Die kultes sien hul as die herstel van die ware Christendom. Omdat net hulle suiwer is, ontwikkel hierdie eksklusiwiteit in ‘n gevaarlike isolasie.

10)Taal: Die kultes gee hul eie betekenisinhoud aan woorde en skep selfs woorde wat eie aan hulle is.

Soortgelyke beskrywings van die kenmerke van kulte vind ons onder andere by Watters (1986 – 7 kenmerke), Barnard (1971 – 10 kenmerke) en Hassan (1988 – 4 kenmerke). Hassan lê tereg sterk klem op die beheer wat die kultes oor hul lede het en sien die vier basiese kenmerke van ‘n kulte as beheer oor emosies, gedrag, denke en inligting. Vir ‘n eie indeling word by hierdie benadering van Hassan aangesluit, maar dit word uitgebrei om ook die ander kenmerke wat genoem word in te sluit. Die kenmerke van kultes word dan in die volgende 12 hoofgroepe verdeel, waarin gepoog is om sowel die leerstellige as die praktiese uitlewing te inkorporeer:Thantifaxath - Sacred White Noise

  1. Beheer denke
  2. Beheer gedrag
  3. Beheer emosies / gevoelens
  4. Beheer inligting en omgewing
  5. Beheer taal.
  6. Beheer normes.
  7. “Beheer” God.
  8. Beheer verlossing.
  9. Beheer Skrifinterpretasie
  10. Beheer leerstellings
  11. Beheer die geskiedenis
  12. Beheer lidmaatskap

BEHEER DENKE:

Lede van ‘n spesifieke groep dink dieselfde. Wanneer hulle uitgevra word oor hul leerstellings, hul organisasie, alledaagse gebeure, selfs politieke en maatskaplike toestande, sal mens keer op keer dieselfde of soortgelyke antwoorde hoor. Hul dink dat apartheid verkeerd is; dat Amerika nie oorlog teen Irak moes maak nie; dat Jesus nie God is nie; dat Jesus ‘n reïnkarnasie van die Christus is; dat rook sonde is; dat koffie nie gedrink moet word nie; dat hul organisasie sy gesag van God kry; dat foutiewe profesieë deel van die verlede is, maar dat dit wat die organisasie nou leer geheel en al die waarheid is; dat mens nie na ‘n dokter moet gaan as jy siek is nie, maar net moet bid; dat bloedoortapping uit die bose is; dat hulle vervolg word deur die wat van hul verskil; dat kritiese denke gevaarlik is; ensovoorts. Wanneer met lede van ‘n kulte gedebatteer word, vorder mens net tot op ‘n punt. Dan is dit asof mens in ‘n denk-blok vasloop. Tot hiertoe en nie verder nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer die feite wat voorgelê word die gesag of integriteit van die organisasie begin betwyfel. Hieraan wil die lid nie dink nie en aggressie, beskuldiging van swartsmeerdery of onttrekking aan die gesprek is meestal die resultaat. Selfs as die bewyse aan hulle voorgelê word dat die organisasie hul mislei, is dit asof hul dit net nie kan insien nie.

Dit is asof hierdie rasionele mens wat net nou nog so goed oor die leerstellings kon debatteer, ewe skielik irrasioneel geword het. Hassan (1988:61-63) beskryf hierdie proses as ‘n “thought- stopping technique” wat ‘n lid moet aanleer “to keep their mind `centered'”. Om ‘n goeie lid te wees moet die persoon leer om sy eie denkprosesse te manipuleer. Hul geloof dat hul “in die waarheid is” maak dat alle inkomende inligting hierdeur gekleur, geblok of uitfiltreer word. Dit word gedoen deurdat die kulte die lid vertel dat dit beter is om aan sekere dinge nie eers te dink nie. So sal mens beter kan groei in die “ware” geloof. Sodra ‘n lid dan ‘n “slegte” gedagte kry, sit hy dit uit sy gedagtes en dwing hy sy  gedagtes om in lyn te kom met die denke van die groep. So leer hy om alles wat sy bestaan bedryg uit sy gedagtes te sluit (amper soos ‘n alkoholis sy drank gebruik om van alle negatiewe dinge te vergeet). Wat hy wel sien word ontken (“Dit is nie so nie”), of gerasionaliseer (“Daar sal ‘n goeie rede voor wees”), of geregverdig (“Dit hoort so”). Verskillende groepe maak gebruik van verskillende gedagte- uitwissing metodes, soos byvoorbeeld gekonsentreerde gebed, “chanting” hard of sag, meditasie, sang of neurie. Die lede glo dat hoe beter hul met die uitwissing van “negatiewe” gedagtes vaar, hoe meer het hulle gegroei in die geloof, terwyl hul eintlik al groter slawe word van die organisasie. Hassan wys selfs daarop dat nadat iemand uit ‘n kulte losgekom het, hy deur ‘n moeilike onttrekkingsproses gaan voor hy ontslae is van hierdie verslawing. (Die skrywer het dit self ook gesien by mense wat uit die kultes gekom het). Wat ook opval van gesprek met kulte-lede is dat wanneer hulle nie meer kan antwoord nie, hul glo dat hul organisasie BESLIS die antwoord wel sal hê. Die belofte word dan gewoonlik gemaak dat hul na mens sal terugkom oor die saak (wat nie altyd gebeur nie – seker omdat die leiers van die organisasie hul sê om nie verder met mens te praat nie). Die rede hiervoor vind mens in die stelling van Hassan (1988:61) dat kulte-lede glo dat hul dogma die antwoord gee op alle problem en situasies. Die lid hoef nie meer vir homself te dink nie, want die dogma het klaar vir hom gedink.Daarom hoor mens kulte-lede vir jou sê dat hul jou nie meer kan antwoord nie, maar dat jy eerder met hul leiers moet gesels, want die sal beslis die regte antwoord hê. Dr. Walter Martin (1968:24) beskryf hierdie geslotenheid by kulte-lede met die term “closedmindness”.

Hy wys ook daarop dat (hoewel hul so voorgee) hulle nie werklik geïntereseerd is in ‘n rasionele kognitiewe evaluasie van feite wat hul as negatief ervaar nie. Tog kan die lede die kriteria wat hul nie op hul eie organisasie kan toepas nie, met groot gemak op ander toepas. Dit kan met die term `kompartementele denke’ beskryf word. As iets soos die betwyfeling van die organisasie se gesag eers in ‘n kompartement toegesluit is, is dit amper onmoontlik om in hierdie opsig tot die kulte-lid deur te dring. Martin wys ook daarop (1968:26-27) dat die rede waarom ‘n lid bereid is om teen al sy rasionele denke in tot die ekstreme met die groep te konformeer, is om deel van hierdie afgeslote groep te bly. Martin gee dan ook voorbeelde hiervan. Jehovah-getuies bly glo dat hul organisasie die spreekbuis van God is, al is hul bewus van talle profesieë van die organisasie wat nie uitgekom het nie. Net so is Mormoonse geskiedkundiges en teoloë wel deeglik bewus dat die eerste uitgawe van die `Boek van Mormon’ op ‘n hele paar plekke drasties verskil met die huidige uitgawe, omdat daar heelwat korreksies aangebring moes word. Tog word beide uitgawes deur die Mormone as goddelike openbaringe beskou. Ook die “Christian Science”-aanhangers is bereid om met so ‘n weerspreking saam te leef. Hoewel hul stigter, Mary Baker Eddy, in haar laaste jare dikwels van die hulp van dokters gebruik gemaak het, morfieninspuitings ontvang het vir pyn, bril gedra het en haar tande laat uithaal het toe hul probleme gegee het – hou haar navolgers steeds vas aan haar leerstellings dat pyn ‘n illusie is en dat nie van die hulp van dokters en verdowingsmiddels gebruik gemaak moet word nie. Ons sien in al bogenoemde duidelike voorbeelde van kompartementele denke, waar teenstrydige sake in verskillende kompartemente geplaas word en die groep so met die kontradiksies vrede gemaak het. Martin sien dit as ‘n goeie voorbeeld van hoe die Satan die mens se verstand kan verblind (2 Kor. 4:4). Tipies van die werk van die Satan word die kulte-lede egter mislei om te dink dat kritiek teen hul organisasie “leuens oor ons is wat die Satan in mense se gedagtes geplant het” (Hassan, 1988:62).

So sterk voel die kulte-groepe teen denke los van die groep, dat ‘n groep soos die Moonies vyandig staan teenoor familiebande. Watters (1986:2) gee die rede hiervoor aan dat ‘n gesin of familie ‘n onafhanklike sel is, waar verskil in opinie of gebruike van die kulte in die geheim kan ontwikkel. ‘n Kulte- slagspreuk soos “Hou die organisasie skoon” is ‘n ander manier om te sê dat ontslae geraak moet word van mense wat self dink. Hoe dit werk dat mens se denke deur organisasies so gemanipuleer kan word, is nie die studieveld van hierdie werkstuk nie. Tog kan kortliks saam met Hassan (1988:47) daarop gewys word dat ons met ons bewussyn beperk is en net aan ‘n sekere hoeveelheid inligting op een slag aandag kan gee. (As mens byvoorbeeld hier lees, dan hoor mens nie bewustelik al die geluide om mens en mens voel nie die stoel waarop gesit word en mens sien nie elke letter vir wat dit is nie ens.) Die grootste deel van alle impulse wat ontvang word, word deur die onderbewussyn hanteer. Die onderbewussyn is ook instaat om vir mens verstandprentjies voor te hou wat mens as werklikheid ervaar. Mens kan jou ook inleef in dinge asof dit werklik is (byvoorbeeld in boeke ens.). Ongelukkig kan ook ‘n werklikheid onbewustelik geskep word, wat mens dink waar is, of mens se kritiese fakulteit teruggedruk word tot ‘n vlak wat mens weer (ouerlike = die moederlike organisasie) gesag aanvaar. ‘n Nuwe verwysingsraamwerk word deur die kultes by hul lede geskep, so dat wanneer lede self moet besluit, dit teen hierdie nuwe agtergrond geneem word. Mens hoor dan ook by vriende van mense wat by ‘n kulte aansluit dat hy nou heeltemal anders dink en reageer op sake. Meestal sluit mense dan ook nie by kultes aan nie, maar word hul deur kultes gewerf. Om mens teen die suigkrag van kulte te beskerm is dit belangrik om krities te kan bly dink. God leer ons in Sy Woord dat die waarheid vry maak. Ons wat hqdefaultdeur Christus bevry is, mag nie toelaat dat ons denke deur ‘n ander mens se idees verslaaf word nie.

BEHEER GEDRAG:

Wat kry mense soos die Jehovah-getuies so ver om elke naweek te gebruik om by winkelsentrums boeke te verkoop en om elke weeksaand (moeg van die dag se werk) uit te gaan om ander mense van hul siening te oortuig, of om nog opleiding te verkry daarvoor? Wat kry mense soos die Ou Apostels so ver om te glo dat hul 10% van hul tyd (17 ure per week) aan die beoefening van hul godsdiens of die amptelike verkondiging daarvan moet bestee? Wat kry mense soos die “Christian Science”-beweging so ver om te maak asof hul fisiese probleme nie bestaan nie en so vir hulself ‘n klomp ellende op die hals te haal? Wat kry mense soos die Hare Krishnas so ver om elke dag minstens twee uur lank dieselfde goed oor en oor te sing en beswymend te wieg (“chant”)? Wat kry mense (waarvan baie ryk en vooraanstaande) soos die navolgers van Rasjnees so ver om in bewondering om hom te dans, al hul geld vir hom te gee en hulself aan enigeen vir seksuele gemeenskap oor te gee? Wat kry mense soos die Mormone so ver om eindeloos hul geslagsregisters na te gaan en hul vir die dooies te laat doop; asook om permanent ‘n kleed onder hul klere te dra wat hul sogenaamd teen die aanslae van die Bose kan beskerm?

Wat kry mense soos die Moonies so ver om hul families vir wie hul eers so baie omgegee het, eenkant toe te stoot? Wat het die amper 1000 lede van die “Peoples Temple” van Jim Jones so ver gekry om almal saam selfmoord te pleeg? Op al hierdie vrae is daar telkens net een antwoord. Die leiers van hierdie kultes wat daarop aanspraak maak dat hul die spreekbuis van God hier op aarde is beheer hul gedrag. Martin (1968:33) is dus reg as hy sê dat ons `in die koninkryk van die kulte ‘n mosaïek van abnormale gekondisioneerde gedragspatrone, uitgedruk in ‘n teologiese raamwerk, kry.’ Wat verder hierby aansluit is die dubbele persoonlikheid wat mens by van die kulte lede kry, deurdat hul gedrag en optrede wissel tussen die van die mens wat hul is en die kulte-lid. Mens kan dit amper beskryf met iemand wat, soos die situasie dit vereis, gewoon of professioneel optree. Die verskil is net dat die lid teenoor dieselfde persoon “gewoon” en “professioneel” optree in een kuier – afhangende of die gesprek oor die alledaagse gaan of oor iets waarvoor die kulte staan. Hassan (1988:73) sê dat hierdie gedrag baie bekend is onder almal wat met kulte-lede werk. Hierdie “dubbele identiteit” is dikwels verwarrend vir die naasbestaandes van die persoon – veral in die eerste weke of maande van sy betrokkenheid. Soos die skrywer self gesien het met ‘n jongman wat uit ‘n Christen- gelowige huis kom, maar betrokke geraak het by die sogenaamde “Israelvisie”. Een oomblik (in die woorde van Hassan) `praat die persoon in kultiese terme met ‘n vyandige of uitverkore weet- alles houding; om dan ewe skielik weer soos sy ou self op te tree met sy ou houdings en maniertjies. Wanneer hy in die een fase is, is sy spraak robot-agtig, vol kulte clichés. Wanneer hy weer die ou self is wissel sy stem gewoon tussen emosies en is hy meer bereid om sy gevoelens te deel. Hierdie dubbele identiteit is egter nie ewe sigbaar by alle kulte-lede nie.

Die eenheidsgevoel onder kulte-lede het natuurlik ook ‘n groot invloed op hul gedrag. Dit is ‘n erkende feit dat as mens deel van ‘n groep is mens anders optree as wanneer mens net op jouself aangewese is. In ‘n groep sien mens byvoorbeeld kans vir meer dinge as alleen. In ‘n kulte is hierdie groepsgevoel baie sterk juis omdat hulle hulself sien as die uitverkorenes om “God se boodskap” aan die wêreld te verkondig. Hierdie eenheidsgevoel word verder versterk deurdat hul op mekaar aangewese voel omdat die mense om hul van hul verskil. Hul word soos ‘n gesin wat saam die aanslae van die wêreld moet verduur. Hierdie band word so sterk dat ‘n groep soos die “Peoples Temple” bereid was om saam selfmoord te pleeg, omdat hul leier, Jim Jones, hul laat glo het dat dit al manier is om van die aanslag van die wêreld op hul te ontsnap. Watters (1986:1, 2) wys daarop dat hierdie groepsgevoel ‘n vriendskapsband onder die groep laat ontwikkel wat nie onder ortodokse Christene gevind word nie – baie soos die gevoel van eenheid tussen lede van ‘n geheime klub. Hierdie eenheidsgevoel het nie net ‘n groot invloed op hul gedrag onder mekaar nie, maar maak dat hul bereid is om soos al die ander uit te gaan en nuwe lede vir hul elite groep te werf (op grond van hul geloof dat net hul die waarheid besit en hul daarom die uitverkore werktuie van God is om dit uit te dra). Geen tyd of moeite word ontsien om die nuwe lede af te rig, totdat hul in hul denke, gedrag en emosies prototipe van die ou lede geword het nie. Watters sê dat die lede dan oor hierdie nuwelinge waak en opgewonde is en ook baie spesiale aandag aan hul gee, asof hul hul eie nuutgebore kinders is. Soos goeie pa’s en ma’s waak die geestelike ouers oor hul nuwe bekeerling om te verseker dat hul geloof nie geskud  word deur nuwe ontdekkings of deur die lees van literatuur wat hul as ‘n kulte ontmaskernie. Watters verwys spesifiek na die Moonies waar (soos by ander kulte groepe) as iemand lyk of hy hom aan die groep wil onttrek, die persoon weer ingetrek word in die groep en daar ‘n groot boehaai gemaak word oor al die persoon se goeie eienskappe. So word die emosionele en veiligheidsband van die groep gebruik as ‘n magneet om so iemand terug te trek. Na ‘n rukkie verdwyn hierdie aandag egter en word daar van die persoon verwag om net soos die ander weer die tou te trek.

Hassan (1988:80) wys daarop dat die elite-mentaliteit wat weens hul “uitverkore-wees” by kultes voorkom, ‘n sterk emosionele gom is om die lede bereid te maak om op te offer en hard te werk vir die idees van die groep. Kulte-lede voel nie net sterk oor “sendingwerk” nie, maar glo ook dat hul ‘n bepalende rol in die geskiedenis speel. Die Moonies word byvoorbeeld geleer dat daar eendag monumente vir hul opgerig sal word om hulle en hul opofferings te herdenk. Die Mormone glo weer dat elke egpaar wat getrou bly, as gode nuwe planete gaan bevolk. Hierdie gevoel van `uitverkore-wees’ bring vir die kulte-lid ‘n swaar vrag van verantwoordelikhede mee. Nie net het hul ‘n verantwoordelikheid teenoor die mensdom nie, maar ook teenoor hulself. Hulle moet hul take behoorlik uitvoer om in ‘n goeie verhouding met “God” (eerder die organisasie as sogenaamde verteenwoordiger van God) te bly. Ten opsigte van die gedrag van die lede is die leiers se optrede ook baie belangrik, aangesien dit dikwels as rolmodel aan die lede voorgehou word (“Doen soos ek doen.”). ‘n Nuwe lid sal in die meeste kultes by ‘n ouer lid geplaas word om as ‘n paar saam te werk, sodat die nuwe lid kan leer om op te tree soos die meer ervare een. So word die lid geleer om sy ou gedragspatrone af te leer en die rolmodel se gedrag sy eie te maak. Hassan beskryf dit in die vorm van ‘n hiërargiese modellering (1988:81) waar die nuwe lid die meer ervare een as rolmodel neem, laasgenoemde weer sy leier as model neem, die weer die een bokant hom, totdat die kulteleier self uiteindelik die topmodel is.

Hassan sê dan ook dat selfs ‘n gewone buitestaander kan raaksien dat die lede van ‘n kulte se gedrag, maniertjies, kleredrag en manier van praat snaaks ooreenstem. Wat hierdie buitestaander sien is die persoonlikheid en gedrag van die leier soos dit deur die range nageaap is (Hassan, 1988:81). Daar is seker nie ‘n duideliker voorbeeld hiervan as die drag en gedrag van die Hare Krishnas nie. Ten slotte moet ook gewys word op die eenvormige gedrag van lede van kultes teenoor kritiese buitestaanders en oudlede. Hierdie mense word, in terme van die Sjinese kommuniste, as “nonpeople” gesien (Lifton, 1961:433). Daarom is dit selfs nie verkeerd om vir hierdie “vyande van God” te lieg, hulle te haat en hul ten alle koste te vermy nie. Uit eie ervaring weet die skrywer dat vriendelike lede van kulte, met wie mens afsprake vir gesprekke het, nadat hul gehoor het dat die organisasie jou as ‘n vyand bestempel en hul dus verbied om met jou te praat, jou verskriklik koud sal behandel en selfs die deur in jou gesig sal toeslaan of hatig sal sê dat hul nie ‘n word verder met jou wil praat nie. As gevra word waarom nou so anders opgetree word, is hul antwoord baie vaag. Dit is duidelik dat die kulte hul gedrag beheer.

BEHEER EMOSIES / GEVOELENS:

VREES speel ‘n belangrike rol in die beheer van die kultes oor hul mense. Hul literatuur is gewoonlik deurspek met die naderende onheil wat oor die mensdom kom. Al wat mens van hierdie onheil kan red is die Organisasie. So erg kan die vrees wees, dat die mense van ‘n kulte hulself leed sal aandoen, selfs selfmoord sal pleeg (“Peoples Temple”) om weg te kom van dit waarvoor hul bang is. Enigiets kan die vyand wees – van medisyne en bloedoortapping tot die naderende eindoordeel. Deur hierdie voortdurende gevoel van vrees onder die oppervlakte, word die lede lojaal en hard besig gehou.

VREES word ook op ander maniere gebruik. Om die lid te keer om kontak met kritici te maak word (soos Watters, 1968:1 dit stel) `’n dodelike vrees vir die duiwel en sy pogings om ander mense (selfs vriende) te gebruik om hul op die verkeerde pad te lei, geskep’. (Die negatiewe reaksie van familie en vriende wanneer iemand by ‘n kulte aansluit, versterk natuurlik hierdie gevoel dat die duiwel deur hulle hom wil wegtrek van die regte pad, by hierdie persoon.) Hassan (1988:82) sê dat elke kulte met wie hy al te doen gehad het, ‘n duiwel het wat om elke hoek en draai ‘n duiwel het wat net wag op ‘n lid om sy voet verkeerd te sit om hom vir ewig verlore te laat gaan. Hoe verskrikliker hierdie duiwel geskets word, hoe groter vrees en samehorigheid het dit by die groep tot gevolg. Lifton (1961:434) wys daarop dat die mens se VREES om sonder betekenis (‘n niks) te wees. Die lid van ‘n kulte word oortuig dat ‘n betekenisvolle lewe alleen binne die bande en grense van die organisasie” uitgeleef kan word. Sy vrees vir betekenisloosheid word dus ondervang deur sy lidmaatskap van die kulte. Hierdie vrees word weer sigbaar wanneer mens hom bewys dat syorganisasie beslis nie “Goddelike gesag” het nie, maar vol leuens en dwaalleer is. Soos klokslag kom die vraag dan: “Waarheen anders kan mens gaan?” Hul vrees vir sinloosheid en niks om aan vas te hou nie, word duidelik wanneer iemand oortuig is sy organisasie is vals en dan vir mens sê: “Moet my asseblief nie nou uitlos nie.”I Hassan (1988:44-46) gaan selfs so ver om VREES (fobieë) te beskryf as dié mag wat lede van die kulte hul vryheid ontneem. ‘n Fobie is ‘n intense vreesreaksie wat mens vir iets of iemand het, wat meestal ‘n gevolg van ‘n traumatiese ondervinding is. Kultes skep by hul lede fobieë rondom die moontlikheid om ooit die groep te verlaat. Sommige groepe oortuig hul lede dat as hul ooit die groep verlaat iets verskrikliks hulself of hul dierbares sal tref (amper soos die vrees wat ‘n kettingbrief by mens skep dat as mens dit nie verder stuur nie iets baie slegs met jou gaan gebeur).timthumb (1)

Alle groepe skets voortdurend ‘n uiters donker prentjie van alles buitekant die groep (byvoorbeeld van die Christelike kerke, die staat en die maatskappy) dat dit ook ‘n vreesreaksie by lede skep om ooit die groep te verlaat. Deur die vrees-emosie te beheer, verkry kultes beheer oor hul lede en verloor die lede hul eie besluitneming, omdat dit wat die organisasie bied die enigste manier is waarop oorleef kan word. Hul glo dat daar geen ander manier vir hulle is om geestelik, intellektueel of emosioneel te groei nie. So word hul niks anders as ‘n slaaf van hul organisasie nie. Die kultes is ook meesters daarin om deur SKULDGEVOELENS hul lede te beheer. Dit is mos so dat as mens eers skuldig voel teenoor iemand, mens uit skuldgevoel bykans enigiets vir daardie persoon sal doen. Lifton (1961:424) het in sy werk onder Amerikaanse krygsgevangenes wat kommunistiesgeoriënteerd uit Sjina gekom het agtergekom dat SKULDGEVOELENS ‘n baie belangrike rol gespeel het in hierdie verandering van beskouing by die Amerikaners. Hy stel dan dat die oorsaak van skuldgevoelens by kulte-lede lê in die beklemtoning van reinheid (“purity”) deur die kulte.

Omdat selfs die beste mens nie honderd persent kan lewe nie, voel die lede skuldig en skaam teenoor die organisasie. By die organisasie vind die lid dan vergewing (- die organisasie het die mag oor vergifnis) en wil hy nou graag deur sy harde werk vir die groep vir sy wandade vergoed. Dit is logies dat iemand wat eers deur so ‘n proses gegaan het, moeilik die kulte sal verlaat. Watters (1986:1) wys daarop dat ‘n verskriklike skuldkompleks geplaas word op ‘n persoon wat die organisasie wil verlaat. Dit is die verskriklikste ding wat ‘n lid kan doen om “God se organisasie” in die rug te steek. Die gevolg is dat selfs as ‘n persoon uitgaan, hy moet veg teen hierdie gevoelens en dit dikwels gebeur dat (as so iemand nie behoorlike hulp en ondersteuning kry nie) hy weer later by die kulte aansluit om net vrede in sy gemoed te kan kry. ‘n Ander gevoel wat meesterlik deur die kulte uitgebuit word, is die gevoel dat die wat uitgesproke daaroor is dat hul van die kulte verskil, besig is om die kulte te vervolg. Mens kan dit ‘n sort VERVOLGINGS-MANIE noem. Reeds is daarop gewys hoe hierdie idee die lede van Jim Jones se “Peoples Temple” sover gekry het om selfmoord te pleeg – net om van die sogenaamde vervolging los te kom. Wanneer mens moeite doen om die evangelie na Jehovah- getuies, Mormone, Ou Apostels ensovoorts te bring, kom die vraag na jou bona fides bykans altyd na vore in die vorm van: “Waarom vervolg jy ons?” Hulle uitgaan na lede van Christenkerke om die te oortuig dat die Christelike kerke verkeerd is en hulle leerstellings reg, word egter nie deur hulle as vervolging gesien nie, maar as ‘n weldaad.

Martin (1968:30) wys daar op dat die Jehovah-getuies se geloofsisteem die siening bevat dat Christene hul sal wil vervolg. Daarom, die oomblik wanneer daar negatief verwys word na Russell of Rutherford, hul leerstellings, die Wagtoring-organisasie of ‘n lid, neem die Jehovah-getuie ‘n martelaars- of vervolgingshouding aan. (Hiervan kan seker enigeen wat met die mense werk getuig.) Die Jehovah-getuie voel seker soos ‘n held om so staande te bly teen die vervolgingsmagte van die “duiwel se organisasie” (die Wagtoring se definisie van die Christendom). Dit spoor hom natuurlik aan om voort te gaan en maak dit soveel moeiliker om so iemand sover te kry om anders te dink. (Hoe kan mens ook van iemand verwag om vrywillig in te neem wat hy glo gif is?) Juis vanweë die sogenaamde vervolging deur diegene wat van hul verskil en vanweë die sogenaamde misleiding waarmee hul die mense mislei, word nog ‘n emosie in die kulte lid teenoor die teenstanders wakker gemaak – die emosie HAAT. Hoe meer mens met die kulte te doen het, hoe meer kom mens agter hoe hatig hulle voel teenoor diegene buitekant hulle kring. So leer Rutherford sy Jehovah-getuie navolgers (Reconciliation, 1928:85-125) om die Christene en veral die ampsdraers, met die suiwerste haat te haat.4 Oor die negatiewe gevoelens wat die kultes onder hul lede aanblaas sê Dr. Walter Martin (1968:25) dat die persoonlike antagonisme teenoor Christene ‘n kenmerk van die kultiese geloofsisteem geword het. Die lid plaas bykans altyd die negatiewe gevoel wat hy oor die leerstellings van die Christendom het oor op die persoon wat hierdie leerstellings voorstaan. Hierdie gevoel hang saam met die geslotenheid van die kultes en maak dit baie moeilik om deur te dring na die kulte-lede. Dit help as mens eers met opregte belangstelling die negatiewe gevoel van die person teenoor jou as Christen kan deurbreek, voordat oor leerverskille gesels word. Dit is egter ongelukkig nie altyd moontlik nie, want selfs op naby-familie soos ouers, kinders en huweliksmaats word die negatiewe gevoelens op geprojekteer.

Die meeste mense reageer baie negatief as hul hoor dat ‘n vriend of familielid by ‘n kulte ingetrek is. Ongelukkig dryf hierdie reaksie die persoon net verder in die arms van die kulte in, want daar ontvang hy nou LIEFDE en aanmoediging om met sy ingeslane pad te volhard. Hassan (1988:81) sê dat in die liefde wat die nuwe lid in die begin van die kulte ontvang so onvoorwaardelik en sonder grense lyk, sodat die persoon van sy voete af gevee word deur al die aandag en aanprysings. Dit voel vir die persoon letterlik of hy in ‘n utopie ingestap het waar almal vir hom omgee en in hom belangstel. Maar soos die persoon mettertyd al meer deel word van die groep, draai die aandag en vleiery van die groep weg van hom na nuwes wat gewerf word. Nou moet die persoon leer dat om liefde in die groep te ontvang nie onvoorwaardelik is nie, maar afhang van sy goeie deelname en resultate. So word die persoon gedwing om al harder te werk en dieper by die kulte betrokke te raak. In sy boek getiteld “The New Cults” (1980:26) sê Martin dat die kulte vandag vir die eensaam geworde westerling ‘n plek bied waar daar sosiale kontak en persoonlike interaksie is. Die groep is van alle belang en elke lid glo dat hy of sy ‘n integrale en noodsaaklike deel daarvan vorm. Ook Barnard (1971:53) sê dat ‘n belangrike rede waarom mense tot groepe soos die Jehovahgetuies aangetrokke voel, die beeld van warme gemeenskap is wat hulle uitstraal. Hy sê dat die hegte band wat tussen die lede bestaan die gevolg daarvan is dat hulle saamgestel is uit mense wat dieselfde dink en voel. Wat hy egter miskyk dat hierdie mense nie aangetrokke tot mekaar gevoel het omdat hulle van die begin af sulke “gelykgesindes” was nie, maar dat juis die beheer wat die kulte oor hul het hul so eenders gemaak het. As mens so in die praktyk met die kulte besig is, wonder mens of die onderlinge “liefdesband” en deel van ‘n groep voel, nie een van die belangrikste redes is waarom mense by die kultes is nie. Iemand sal selfs vir mens sê (nadat mens vir haar duidelik uit die Bybel aangetoon het dat die hel wel bestaan) dat sy eerder na die hel wil gaan as om met haar vriende in die Jehovah-getuieorganisasie te breek.

Hoe langer mens in ‘n kulte betrokke is, hoe moeiliker word dit om daarmee te breek, want hoe minder vriende het mens buite die organisasie oor. Om uit die kulte te kom beteken dat weer van voor af vriende gemaak moet word en daarvoor sien baie net nie kans nie.  Daarom dat daar soveel waarheid steek in dit wat anonieme persoon gesê het: “Niemand sluit by ‘n kulte aan nie. Hy stel net die besluit om dit te los uit.” Ander skrywers beklemtoon ook die VRIENDSKAP en EENHEIDSGEVOEL as ‘n belangrike houvas wat die kulte op hul lede het. So wys Hexham (1986:120) op ‘n tendens in Amerika dat eensame voorstedelike huisvrouens, vasgevang en gefrustreerd deur die moderne klein bestaan in die gesin, by die kultes ‘n uitbreek uit isolasie en vriendskap vind. As mens net na die hoeveelheid mense aan die skrywer bekend aan die Wes-Rand kyk (vergelyk die gevallestudies) waar die (huis)vrouens by groepe soos die Jehovah-getuies betrokke geraak het, terwyl die mans apaties of negatief daaroor staan, lyk dit of hierdie tendens wel deeglik ook hier in Suid- Afrika voorkom. ‘n Ander emosie wat deur kultes aangespreek word is die behoefte aan SEKURITEIT. Eintlik blaas die groepe self hierdie behoefte aan deurdat dit die maatskappy, die toekoms en die ander godsdienste so donker skilder, dat die lid graag vlug na die beskermende arms van die organisasie. Martin (1980:24) wys ook op die belangrikheid van die gevoel van SEKURITEIT wat die kultes aan hul lede bied. In ‘n samelewing waar elkeen self moet besluit wat vir hom goed en reg is, is baie mense opsoek na ‘n vaste normsisteem vir die lewe, na sekerheid en waarheid. Hierdie soort sekerheid en sekuriteit (al is dit vals) word deur die kulte aan hul gebied. In die hoë omset wat die kulte het los baie later weer die kulte in die besef dat ook daar geen ware sekuriteit gevind kan word nie. Al waar sekuriteit en sekerheid waarlik gevind kan word, is by God, soos Hy Homself in Sy Woord openbaar.

guy-fawkes-mask2By kultes soos die van Rasjnees en die Hare Krishnas speel die EMOSIONELE OPSWEPING om in ‘n trans deel te word van die groot universele waarheid en godheid ‘n groot rol. Ook Lifton (1961:435) lê klem op hierdie gevoel van sommige kulte-groepe dat hul deur die kulte los kan kom van die alledaagse sleur om deel te word van die groot sfeer van waarheid, werklikheid en vertroue wat meer is as enigiets wat hy hom kan verbeel. Hoewel dit in die meer rasionele kulte soos die Jehovah-getuies en Mormone gladnie op hierdie wyse voorkom nie, is daar tog ‘n sort emosionele opsweping in hul aanhoudende beklemtoning van hoe suksesvol hul wêreldwyd is en die geweldige groei wat hul beleef – wat niks anders bewys as dat hul “God se Organisasie” en “in die waarheid” is nie. Op die vraag wat iemand vatbaar vir ‘n kulte maak, antwoord Hassan (1988:77) dat die meeste kultelede gewerf is in ‘n tyd van ongewone SPANNING byvoorbeeld wanneer ‘n belangrike verandering in hul lewens plaasgevind het. ‘n Tyd gelede (einde 1990) was die koerante en tydskrifte in Suid-Afrika vol van ‘n klomp senior hoërskoolleerlinge van Pretoria wat na ‘n naweek kamp, aangebied deur die kultusgroep `Ambassadeurs vir Christus’, nie wou teruggaan na hul huise toe en hul matriek wou voltooi nie. Hul is deur die groep oortuig dat die einde van die wêreld op hande is en dat hul enigste sekuriteit daarin lê om by die groep te bly. Hierdie gebeurtenis onderskryf die siening van Coughlin (1983:6) dat die kultes veral met maklik BEïNVLOEDBARE PERSONE werk soos kinders en jongmense. Ander mense wat teikens is is alleenlopers en mense wat seergemaak is deur iets wat met hul gebeur het. Hierdie mense gaan deur ‘n periode van verandering wat hul meer kwesbaar maak. Hy wys daarop dat alle inligting oor die groep en hulle leer nie in die begin aan die potensiële lede gegee word nie, maar dat hul soos wat hul vorder gelydelik daarin gelei word. In die begin klink dit wat gesê word gewoonlik of dit basies ooreenstem met byvoorbeeld die Christelike geloof waaruit die persoon kom. Coughlin stel verder dat die kultes baie aandag gee aan hierdie mense in ‘n tydperk wanneer hulle aandag baie nodig het. Deur aanhoudende besoek word die persoon nie die tyd gegee om rustig na te dink of ondersoek oor die saak in te stel nie. By kultes wat die “slagoffers” op ‘n kamp kan saamtrek (soos die geval was by die `Ambassadeurs vir Christus’ hierbo beskryf), word dievatbaarheid vir die nuwe idees verhoog deur ‘n program van min slaap, ‘n lae proteïen dieet en aanhoudende indoktrinasie.

Ook Hexham (1986:95) stel dat persoonlike KRISISSE dikwels mense motiveer om te soek na ‘n sisteem wat ‘n (eenvoudige) verduideliking kan gee vir sy of haar huidige situasie en so gemoedsrus kan kry. Baie van hierdie mense soek dan die antwoord by een of ander kulte-groep wat op hul pad kom. Hier kry die persoon dit reg om (eksistensialisteise) uit sy of haar situasie te tree en ‘n nuwe lewensstyl of denke aan te kweek waar hy / sy “geestelik aanvaar” word. Ook Barnard (1971:52) beklemtoon dat mens juis in KRISISTYE soos tye van “groot onsekerheid” of “na groot rampe of oorloë” meer ‘n geneigdheid tot groepe soos die kultes het. Ook “tye van verwarring en insinking en gebrek aan hoop” sien hy as goeie teelaarde vir die groei van hierdie groepe. In Suid-Afrika beleef ons tans so ‘n tydperk van omskakeling, verwarring en onsekerheid en alles dui daarop dat die kultes ‘n bloeitydperk beleef. Vir die kultes is die kenmerk van ‘n goeie lid LOJALITEIT en TOEWYDING. Hassan (1988:64) stel dat dit binne kulteverband die mees gerespekteerde emosies van almal is. Hierdie lojaliteit en toewyding hou in dat die lid geen negatiewe emosies na die opervlakte mag laat kom nie, behalwe teenoor buitestaanders. Dit hou ook in dat eie behoeftes onbelangrik is, solank alles net tot die beswil van die groep gebeur en dat nooit daaroor gekla word nie. In plaas daarvan om die leier of die organisasie te kritiseer, moet die lid eerser homself kritiseer en foute aan sy eie tekortkominge as lid van die groep toeskryf. Om hul lede se emosies te beheer het ‘n fyn kuns en ‘n wetenskap binne die kultes geword. As dit eers gedoen is, is dit nie moeilik om die lede se gedrag en denke te stuur nie.

BEHEER INLIGTING EN OMGEWING:

‘n Mens neem besluite volgens die inligting waaroor mens beskik. Daarom sorg die kultes dat net geselekteerde inligting by hul lede uit kom. Die mense waartussen jy beweeg en tot wie jy aangetrokke voel het ‘n groot invloed op hoe mens na sake kyk. Daarom is dit vir die kultes belangrik dat hul lede nie in “gevaarlike” omgewings beweeg wat hul van gedagte kan laat verander nie. Hassan (1988:65) sê dat `inligting’ die brandstof is wat die verstand benodig om behoorlik te funksioneer. Ontneem ‘n persoon die inligting wat hy benodig om ‘n goeie beoordeling van ‘n saak te kan maak en mens kan seker wees van ‘n swak beoordeling. Mense bly volgens Hassan vasgevang in die kulte, omdat hul nie toegang mag hê tot sekere belangrike inligting en omdat die kulte beheer uitoefen oor die meganisme om inligting wel verkry, te beoordeel. Lifton (1961:420) sien die beheer van die omgewing van iemand as die eerste kenmerk van ‘n groep wat beheer oor daardie persoon se denke wil verkry. Binne die omgewing is die belangrike saak wat beheer moet kan word, die persoon se kommunikasie – sowel met ander mense, as met homself. Dit wat die persoon sien, hoor, lees en skryf, ondervind en beskryf – selfs dit wat hy vir homself sê – moet beheer word.

Binne ‘n Sjinees-kommunistiese tronk en rewolusionêre universiteit was die beheer oor die omgewing en inligting wat die Amerikaanse krygsgevangenes daar ontvang het, nie moeilik nie. Die kultes moet egter hierdie soort beheer verkry deur die lede sover te kry om hulself in ‘n  gevangenis” te plaas, deurdat lede self besluit dat hulle hul van omgewings en inligting gaan onttrek wat “skadelik” vir hulle kan wees. So kan ‘n persoon selfs daar waar hy elke dag tussen ander mense werk, steeds volgens die voorskrif van sy organisasie in ‘n selfgemaakte isolasie lewe. Die lid moet net sover gekry word om te glo dat “dit beter so is” om nie van sekere sake kennis te dra of met sekere persone te doen te kry nie. Hierdie beheer oor die inligting en omgewing deur die kultes bring groot frustrasie mee vir persone wat met kultelede werk. Net wanneer dit lyk of mens met iemand vorder, word die person verbied om verder meer iets met jou te doen te hê. Kultelede met wie afsprake gemaak is kom keer op keer nie hul afsprake na nie, waarskynlik omdat hul van hul organisasie verneem dat jy ‘n “gevaarlike” persoon is. Nadat die skrywer ‘n paar keer twee ouderlinge in Bethel (die hoofkwartier van die Jehovah-getuies in Suidelike Afrika) besoek het, is hy deur een van die seniorlede van die organisasie opgebel en gesê dat hy hul terrein verbied is en dus nie weer daar toegelaatsal word nie. Watters (1986:1) gee ‘n verskeidenheid van maatreëls weer wat kultes gebruik om te sorg dat hul lede nie die “gif” inkry van mense wat van hul verskil of ‘n wyer visie op sake verkry nie:

  • Verbied die lees van die materiaal van ander godsdiensgroepe, veral dan ook enige kritiese materiaal of stukke van ex-lede.
  • Maak die mense bang vir hoe die duiwel ander mense (selfs hul vriende en familie) gebruik om hul weg te trek van “die waarheid”.
  • Hou vol met ‘n daaglikse of weeklikse indoktrinasieprogram om die kulte se unieke lewens- en wêreldbeskouing op die lid te bly afstempel.
  • Hou die lid te besig om ander standpunte te lees of te oorweeg. Hassan (1988:65) sluit hierby aan. Hy stel dat baie kulte hul mense so besig hou dat hul maar min tyd het om dinge te lees wat nie van die kulte self kom, of om selfs televisie te kyk of radio te luister. As die lede nog lees, dan is dit veral materiaal en propaganda wat van die kulte self kom en wat baie eensydig is ter wille daarvan om die lede se aandag op die “regte” dinge gefokus te hou.

Mense wat hul kon losskeur van ‘n kultegroep is vir daardie groep ‘n wesentlike gevaar. As so ‘n persoon die geleentheid kan kry om met sy vorige kamerade te praat, kan hy hul dalk ook tot dieselfde insigte oor die groep bring. So kan die kulte beheer oor sy lede verloor wat katastrofaal vir die voortbestaan van die kulte sal wees. Daarom verbied die kultes hul mense om iets met oudlede te doen te hê. Watters (1986:2) wys daarop dat die kultes alles in hul vermoë doen om ‘n stigma te plaas op mense wat die groep kritiseer en veral dan op oudlede. In die kas van hierdie mense word gesoek vir geraamtes wat opgediep kan word vir hul lede, sodat die kan “insien” dat hul niks met sulke mense te doen behoort te hê nie. Die oudlede word as drosters (“apostates”) beskryf, wat die wêreld liefgekry het en daarom “God se” organisasie verlaat het. So negatief word hulle geskets dat die lede niks met hul te doen wil hê en wegskram daarvan om ooit self die organisasie te verlaat. Op bogenoemde en ander wyses kry die kultes dit reg om die inligting en omgewing van hul lede te beheer en so hul lede deel van hul organisasie te hou.Listening

BEHEER TAAL:

Martin (1980:21) sê dat elke kulte sy eie woordeskat het. Dit kan bekende terme wees waaraan ‘n ander inhoud gegee word, of dit kan eie geskepte terme wees. So praat die “Children of God” byvoorbeeld van “Ffing” wanneer hulle verwys na die betaal van geld vir seks, of te wel prostitusie. Hassan (1988:61, 62) wys ook op die sogenaamde “gelaaide taal” wat by die kulte gevind word. Omdat taal aan ons die woordeskat gee om mee te dink, kan die denke in ‘n mate beheer word deur die woordeskat te beheer. Baie groepe het uitdrukkings vir sekere komplekse situasies, wat dan die lid help om in so ‘n situasie in lyn met die leer van die kulte te dink. So byvoorbeeld praat die Moonies van ‘n “Kain-Abel-probleem” as ‘n lid met ‘n ander – hoër of laer as hom in die hierargie – probleme optel. Die senior lid is dan altyd die Abelfiguur en die junior een die Kainfiguur, wat nie soos Kain in opstand teen sy broer mag kom nie. So is enige geskil eintlik reeds deur die uitdrukking besleg. Mens kan hier die term van die Jehovah-getuies “apostate” bynoem, wat aan oudlede gegee word. As iemand as ‘n “apostate” beskryf word (selfs al is hy nie eers ‘n oudlid nie) weet die lid om niks met hierdie persoon te doen te hê nie. Saak afgehandel. Om ‘n person wat gevaarlik is te kan etiketteer met ‘n negatiewe term, is om sy gevaar vir die beheer van die kulte oor sy mense drasties te verminder.

Hassan wys verder daarop dat hierdie “eie taal” van die kulte ‘n onsigbare muur tussen lede en buitestaanders meebring. Die taal help die lede om spesiaal en meer ingelig as die algemene publiek te voel. Dit laat ook nuwelinge wonder waaroor gepraat word en spoor hul aan om harder te studeer om die “waarheid” te kan “verstaan”. Deur hierdie taal deel van hulle te maak, leer diepersoon egter in werklikheid om nie te dink nie, maar om volgens hierdie clihes te glo. ‘n Kenmerk van die kultes is verder dat hulle hul eie inhoud aan bekende woorde en sinne gee. Dit maak dat nuwelinge glo dat wat die organisasie verkondig in lyn is met wat hy nog altyd gedink het. Geleidelik word dan aan die persoon die nuwe inhoude daarvan deurgegee. In die politiek is hierdie proses baie bekend. So het die Sjinese kommuniste aan die woord “people” die inhoud gaan gee van alle mense wat deel van hulle groep is (vergelyk Lifton, 1961:433). Dit beteken dus dat as die regeermag aan die “mense” of “volk” oorhandig word, dit eintlik aan die kommunistiese party oorhandig word. Die Moonies byvoorbeeld sê altyd in Amerika in die openbaar dat hulle “pro-Amerika”, “prodemokrasie” en “pro-familiebande” is, omdat hulle weet dat dit is wat die Amerikaners graag wil hoor. In werklikheid, sê Hassan (1988:66), bedoel hulle met “pro- Amerika” dat hulle die beste vir Amerika wil hê, naamlik ‘n teokrasie onder die regering van Moon; met pro-demokrasie ‘n teokratiese diktatorskap van die `Unification Church’; en by “pro-familiebande” dat almal deel moet wees van die familie van Moon, sy vrou en sy geestelike kinders. Hul leerstellings het dus glad nie verander dat Amerika ondergeskik moet word aan Korea, dat demokrasie ‘n geklike stelsel is wat “God besig is om uit te faseer” en dat mense hul gesinne moet los as die negatief is oor hul betrokkenheid by die kulte.

Hierdie misbruik van terme deur daaraan ‘n nuwe inhoud te gee, vind veral plaas by die kulte se herinterpretasie van die woordeskat van die Bybel. Veral die ouer kultes soos die Jehovah- getuies en die Mormone maak graag van Christelike terminologie gebruik om hul meer aanvaarbaar te laat wees vir die Christene wat hul tot hul denke wil bekeer. Die Mormone het selfs in 1990 op S-A TV1 op Sondae ‘n halfuurlange program laat uitsaai (“Music and the spoken word”) waarin hul duidelik daarop uit was om deur hul woordeskat en sang die Christene te laat glo dat hulle maar net nog ‘n Christelike kerk is. So is byvoorbeeld die “Negro-spiritual” gesing met die woorde: “When we meet again, when we meet again, when we meet at Jesus feet.” Wat hul egter nagelaat het om te sê is dat ons volgens hulle leer met die eindoordeel nie net voor Jesus sal staan nie, maar ook voor Joseph Smith en dat laasgenoemde ‘n bepalende sê sal hê of ons volgens hul leer gode sal word en ons eie planete sal kry om te bevolk – alles wat radikaal in stryd is met die Bybel en die Christelike leer. Martin (1980:32) wys daarop dat elke kulte sy eie definisie het vir die terme wat ons as fundamenteel beskou om ons geloof mee te verdedig. So is “Jesus” in “Silva Mind Control” ‘n geestelike gids; vir die Hare Krishnas is Hy een van baie “avatars” of te wel vleeswordings van God; vir die lede van “Die Pad” (“The Way”) is Hy ‘n mindere god – eintlik geen god nie; terwyl Hy vir die lede van die “Children of God” ‘n sekspervert is wat selfs in homoseksuele aktiwiteite betrokke is. Hierby kan ons byvoeg dat vir die Mormone Hy die broer van die duiwel (Lucifer) is; en vir die Jehovah-getuies Hy die aartsengel Migael en dus ‘n skepsel is. Die Heilige Gees weer is vir die Jehovah- getuies ‘n blote onpersoonlike krag wat van God uitgaan, terwyl die Ou en Nuwe Apostels, asook die Apostel-eenheid Hom sien as ‘n krag waaroor hul “apostels” beskik.

In sy boek “The kingdom of the cults” sê Martin dat die kultes ook die duidelike betekenis van ‘n Bybelse teks herdefinieer, sodat dit klink asof hul leerstellings deur die Bybel onderskryf word. Hierdie harmonie wat hul lede en die wat hul wil werf moet oortuig dat dit wat die kulte sê op die gesag van Gods Woord berus, is volgens Martin op sy beste gebasseer op ‘n dubbele betekenis van woorde of ‘n oppervlakkige ooreenstemming, wat nie die toets van die Bybelse konteks, grammatika of duidelike eksegese kan staan nie. Ons kan vanuit ons Suider-Afrikaanse konteks hier dink aan die soort eksegese wat die sogenaamde Israelvisie gebruik om te “bewys” dat die Bybel sê dat dit slegs blankes is wat die ewige lewe kan beêrwe, of die teenoorgestelde wat weer deur sekere swart godsdienstige groepe beweer word. Mens kan ook as voorbeeld die Ou Apostels neem wat die Bybel gebruik om dit self irrelavant te maak, deurdat hulle deur onmoontlike eksegese beweer dat die Bybel self sê dat dit “die letter is wat doodmaak”. As hulle dus van die Bybel praat, dan het hul ‘n ander siening daarvan. Om dus suksesvol met iemand in die kulte te gesels, moet mens besef dat hy ‘n eiesoortige taalgebruik het wat deur die kulte beheer word. Vir behoorlike kommunikasie is dit belangrik dat aan die persoon deur gegee word wat die eintlik inhoud van belangrike terme is soos wat die Christendom dit verstaan. As daarin geslaag kan word om die persoon anders te laat praat en die oorspronklike inhoud aan woorde te gee, het mens al verder gevorder in die rigting dat die persoon weer vir homself sal kan dink.

BEHEER NORMES:

Deurdat die leiers van die kultes daarop aanspraak maak dat hul met goddelike gesag optree, het hul in die oë van hul lede ook die mag om te sê wat reg en wat verkeerd is. As Rajnees sê dat dit reg is om deur dwelmhandel geld vir hul groep in te samel, dan doen die lede dit met ywer asof hul dit vir God self doen. As die lede van die “Children of God” geleer word dat die liefdesband van die `kinders van God’ onderling uitgedruk word in seksuele gemeenskap met mekaar, dan sal die lede dit met ywer doen. Die lede se hele siening van wat goed en wat sleg is, hang volgens Watters (Mrt-Apr. 1990:11) van die verhouding waarin die saak staan tot die leerstellings en gebruike van die kulte. Volgens die belange en siening van die kulte word die hele wêreld in swart en wit verdeel, met min ruimte vir persoonlike besluitneming. Hassan (1988:79) stel dat selfs die mees komplekse kulte-leerstellings die wêreld uiteindelik in twee pole verdeel, naamlik goed versus sleg. Geen groep buite die organisasie kan ook werklik goed wees nie, want dit sal dan die kulte se monopolie op “die waarheid” bedreig. Daar is ook geen ruimte vir interpretasieverskille nie. Tipies van die kultes is dat daar ‘n hele lys van moets en moenies bestaan wat die lede deel van hul eie normsisteem moet maak. So is die gebruik van koffie by die Mormone en rook, vier van vakansiedae en verjaarsdae by die Jehovah-getuies doodsondes. Waar die leerstellings en regulasies oor ‘n saak egter nie ‘n direkte uitspraak gee nie, sê Hassan (1988:79) is die reël dat die leier gevra moet word.

Martin (1980:28-30) sê dat mens by die nuwere kultes van hierdie eeu ‘n snaakse vereniging tussen subjektiwisme en absolutes kry. Terwyl die meeste nuwere kultes in opstand is teen die reëls en taboes van die samelewing, ouers en kerk, het hul terselfdertyd tog hul eie stel van absolute reëls wat deur die lede van hul groep nagekom moet word. Teenoor die meer rewolusionêre benadering van die nuwere kultes, vind mens by die ouere kultessoos die Jehovah-getuies en Mormone volgens Hoekema (1963:376) meer ‘n geneigdheid om perfek te probeer wees. Onder die lede van die kultes is daar duidelik ‘n gevoel van meerderwaardige heiligheid te bespeur, veral teenoor persone in die Christelike kerke. Mens sal dan ook dikwels opmerkings hoor soos: “Kyk hoe leef ons teenoor julle.” Hierdie etiesmeerderwaardige gevoel word aangeblaas deur die kultes om so verder seker te maak dat iemand nooit sal wil wegbreek van hul organisasie nie. Daarom is die publikasies van die kultes deurspek met verwysings van hoe sleg die mense buite hulle groep optree en hoe goed die lede van die organisasie leef. In “Doctrines of Salvation, 1” (19:236) stel Joseph Fielding Smith dat hulle as Mormone, nieteenstaande hulle swakhede, die beste persone in die wêreld is. Hy sê die bewyse daarvan is daar vir elkeen om self na te gaan, want hul is sedelik rein en in baie opsigte ver beter as enige ander mense. So ook glo die Jehovah-getuies dat hulle meer gehoorsaam aan God is as die gewone kerklidmate, omdat hulle baie meer deur-tot-deur getuie werk doen. Terwyl die kulte beweer dat die kerk vol skynheiliges en nominale Christene is, sien hulle hulself as ‘n groep toegewyde heiliges wat bereid is om opofferinge te maak soos God (of in werklikheid eerder die organisasie) dit wil. Omdat wat goed en wat sleg is gemeet word aan die verhouding waarin die saak tot die belange van die kulte staan, kry ons in sekere opsig ‘n doel-heilig-die-middel-benadering by die kulte.

Mens sien dit byvoorbeeld in die benadering van die ouere kultes vandag om meer aansien te verkry deur hul lede en buitestaanders te oortuig dat daar baie wetenskaplikes is wat nie anders kan as om met hul siening en leerstellings saam te gaan nie. Hierdie wetenskaplikes en hul werkeword dan aangehaal as bewys daarvan. In die proses wys Watters (Nov-Des. 1986:3) daarop dat daar gladnie gehuiwer word deur die kultes om hierdie mense buite konteks en selfs verkeerd aan te haal nie. In een van die nuutste publikasies van die Wagtoring teen die Drieeenheid is daar heelwat voorbeelde hiervan (waarop later ingegaan sal word). Solank die leuens ter wille van die wel wese van die organisasie is heilig die doel die middel en is dit eintlik goed. Hassan wys daarop dat van die kultes selfs hul mense toestemming gee en aanspoor om leuens te vertel aan nie-lede (1988:96). Die baie reëls en regulasies vir ‘n heilige lewenswandel by die kultes, hou hul lede so besig dat hul nie tyd kry om krities daaroor te dink nie. Vir elke vlak van die lewe (selfs jou seksuele lewe binne jou huwelik – Hassan, 1988:64) is daar allerhande reëls en regualsies kasuïsties voor uitgestippel. Veldhuizen (1980) wys daarop dat met al hierdie strewe na perfektheid en heiligheid die kultes vergeet dat hul nie self kan betaal vir hul verlossing nie, maar dat Christus reeds volmaak vir ons sondes betaal het, dat ons uit onsself niks het om op te roem nie en dat Hy in ons lewens meer moet word en ons  minder.

BEHEER DIE GESKIEDENIS:

sun-jar1Onder die opskrif “doctrine over person” wys Lifton (1961:430-432) daarop dat die geskiedenis aangepas word deur kultes om in te pas by dit wat hul leer. Dit geld ook vir die lid se eie verlede, deurdat dit wat hy ervaar het nou gekleur word deur hoe die kulte hom daaroor laat dink.  Toegespits op die godsdienstige kultes kan ons as voorbeeld neem dat die kleinste negatiewe dingetjie wat dalk vroeër met ‘n lid as lidmaat van ‘n Christelike kerk gebeur het, geweldig opgeblaas word, terwyl herinneringe aan al die positiewe dinge wat daar gebeur het vergete geraak het. Die meeste gewerfde kultelede is as mens met hulle praat baie gou om eensydig oor hierdie negatiewe “ervarings” van hul te praat, so asof hulle hulself probeer oortuig dat hulle nou soveel beter af is. Hassan (1988:83) sê dat die kultes hul lede se houding tot hul eie verlede, hede en toekoms verander. Die lid kyk op sy verlede buite die kulte terug met ‘n versteurde herinnering wat alles donker kleur. Sy hede word gemanipuleer dat hy voortdurend ‘n gevoel van dringendheid het omdat die laaste minute van die wêreld aan die verbytik is (soos by die Jehovah-getuies waar vir meer as ‘n eeu al gesê word dat “armagedon” enige oomblik gaan aanbreek). Die toekoms weer bring vir die kultelid die beloning vir al sy harde werk vir die organisasie (- ‘n paradys op aarde vir die Jehovah-getuie).

Omdat die kultes glo dat hulle die enigste ware Christelike “kerk” vandag is, moet hulle hu   geskiedenis kan terugtrek na die eerste Christelike gemeentes in die Nuwe Testamentiese tyd. Die probleem wat hulle egter het is dat vir 18 of 19 eeue daarna – tot en met hulle eie stigting, hul geen kerkgeskiedenis het nie. Die uitweg word dan basies deur die bank gevolg om te sê dat vir hierdie tyd geen ware kerk bestaan het nie, omdat die satan God se kerk van Hom afvallig ge maak het. Hulle groep se stigting in hierdie of die vorige eeu was dan God se ingryping in die geskiedenis en ‘n herstigting van Sy “kerk”. Sodoende is hulle groep, met baie eeue se onderbreking, tog die voortsetting van die ware kerk en kan hul dus die geskiedenis van hul kerk tot by Adam en Eva (of nog vroeër soos in die geval van die Mormone wat hul geskiedenis terugtrek tot “God” en “Sy voorgangers” wat almal eers goeie “Mormone” op ander planete was). Hoekema (1963:374-375) wys daarop dat bogenoemde die kerkgeskiedenis vir die kultes baie eenvoudig maak. Niks van werklike betekenis het gebeur van die tyd van Christus tot en met die tyd wanneer die stigter van die kulte die organisasie begin het wat nou die enigste ware gelowiges is. Mens kan hier die voorbeeld van die Katoliek-apostoliese groepe noem (waaronder die Ou en die Nuwe Apostels) wat sê dat daar geen ware kerk bestaan het vanaf na die tyd van die Nuwe Testamentiese apostels tot en met hulle stigting in die vorige eeu nie, omdat die kerke geen apostels gehad het wat “mense se sondes kon vergeef” het of wat “mense met die Heilige Gees kon doop”, nie.

Hoekema gaan voort deur te sê dat dit verskil van Christelike kerke wat uit mekaar voortgekom het, maar wat nog steeds die lyn vashou dat Christus Sy kerk deur die eeue bewaar het (soos Hy belowe het in Mt. 16:18 en 28:20) en wat die onderlinge verdeeldheid in die liggaam van Christus betreur. Hierteenoor lê die identiteit van die kultes juis daarin dat hul afgeskeie moet bly aangesien hulle alleen die waarheid het en “kerk” is. Watters (Nov-Des. 1986:1) wys daarop dat kultes antwoord op die vraag of hul leerstellings die waarheid is as dit nou vir die eerste keer geleer word (vergelyk byvoorbeeld die stories van die Boek van Mormon), dat hul leerstellings nog altyd die waarheid was, maar dat die kerk om een of ander rede vir 1900 jaar hierdie “lig” nie raakgesien het nie. Die kultes gaan nog verder deurdat hulle nie net die siening van hul lede van die verlede verander nie, maar ook die verlede self gaan verander. Dit gebeur veral met die profesië van die kultes wat nie uitgekom het nie. So het die Jehovah-getuies byvoorbeeld hul voorspellings vir 1914 gaan herskryf om aan te sluit by dit wat wel gebeur het. Hul verkondig nou aan hul lede “dat wêreldtoestande wat vir hierdie tydperk voorspel is sedert 1914 plaasgevind het presies soos dit voorspel is.” (Redeneringe uit die Skrif, 1985:264). Die feite is egter dat dit wat die organisasie vir 1914 voorspel het – einde van die Christendom, van alle aardse regerings en van die groot oorlog – niks van waar geword het nie. Maar so word die geskiedenisboeke deur die kultes herskryf om in te pas by hul leerstellings (byvoorbeeld oor 1914) en by hul wensdenkery. Mens kan ook in die verband verwys na hoe Moon se mislukte profesië oor die einde van die wêreld en dat die Moonies sou oorneem in 1960 en 1967, of dat die derde wêreldoorlog in 1977 sou uitbreek, (Hassan, 1988:83) “gewysig” is.

Hoe die kultes die geskiedenis beheer kan ook gesien word daarin dat die Mormone glo dat die “vroeëre geskiedenis van Amerika” – soos in die Boek van Mormon beskryf – die waarheid is, nieteenstaande daarvan dat niks daarvan deur opgrawings bevestig kan word nie. Deur die mens se geskiedenis en sy siening daarvan te beheer, kry die kultes dit soveel makliker reg om ook sy hede en sy toekoms – sy hele lewe te beheer.

“BEHEER” GOD:

Die kultes leer dat God in beheer van hulle organisasie is – dat dit “God se organisasie” is en dat Hy hierdie organisasie gebruik om Sy doel op aarde te verwesenlik. Maar eintlik is dit andersom. Eintlik “beheer” die kultes God. Wat hulle besluit het God sogenaamd besluit. Wat hulle doen is volgens hulle wat God gedoen wil hê. Wat hulle profeteer is sogenaamd wat God profeteer – al kom dit nie uit en gebeur dit nie. Wat hulle leer is sogenaamd “nuwe openbaringe” (“nuwe lig”) van God. Hulle “beheer” selfs God se “keuse” van hulle as organisasie, die redes waarom Hy hulle sou “verkies” en ook die tydstip waarop Hy hulle “verkies” het. Lifton (1961:422) beskryf bogenoemde met die term “mistiese manipulasie”. God word “gemanipuleer” om as stempel te dien op alles wat die organisasie is en uitdink. As ‘n persoon dus uit so ‘n organisasie bedank of uitgeskop word, kan hy “God se straf” en ewige verdoemenis verwag. Vir die getroues (sê Watters, Mar- Apr. 1990:11) is daar by die kultes engele wat gereed staan om hulle te help. Stories word selfs versprei van die wonderlike dinge wat God besig is om in, vir en deur die organisasie te doen omdat hulle “in die waarheid” is.

Watters (Nov-Des. 1986:1) sien dit as dié bealngrikste kenmerk van die kultes dat hulle daarop aanspraak maak dat hulle God se eksklussiewe kanaal met hierdie wêreld is. Om lid te kan wees moet mens die leier(s) sien as die moderne segsman vir God. Daar moet saamgegaan word met sekere (selfuitgedinkte) leerstellings van die leier(s), omdat dit “nuwe lig” is wat “God gegee” het. Al het die Christendom nooit dit so geleer nie, moet die lede glo dat die “nuwe verklaringsmetodes van die kulte van die Bybel, hulle by hierdie “waarheid” uitgebring het. Deurdat die leier(s) daarop aanspraak maak dat dit alles van God kom, kan hul nie weerspreek word nie en het hul vir alle praktiese doeleindes “onfeilbaar” geword (al ontken hul dit gewoonlik). Martin (1968:25-26) sê tereg dat die kultiese geloofsisteme almal ‘n soort insitusionel dogmatismes (hul organisasie en leerstellings is van God en allerbelangrik) het. Dit bring ‘n uitgesprokeonverdragsaamheid teenoor enige standpunt buiten hul eie5. Hul glo hul sieninge is bo-natuurlik begrond en het absolute gesag. Hul onverdraagsaamheid teenoor ander godsdienstige groepe hang nou saam met hierdie “institusionele dogmatisme”. Groepe soos die Ou en Nuwe Apostels gaan sover om te sê dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit wat uit hul onderskeie apostels se monde kom Woord van God is. Ook die Mormone heg goddelike gesag toe aan wat hul lewende apostel sê, soos die Jehovahgetuies aan wat hul beheerliggaam verkondig. Hierdie opeising van God vir hulle, bring logies (soos Hoekema, 1963:374, ook op wys) ‘n skerp breuk met die (“apostate”) Christendom mee. Die “nuwe lig” wat hulle verkry, maak dat die leerstellings van die Christendom al meer en meer “verkeerd” is. So het die leer van die Wagtoring in hul beginjare baie meer met die van die Christendom ooreengestem as vandag (Mense moes byvoorbeeld militêre diens doen en Jesus aanbid, kon kersfees vier ensovoorts). Dit is duidelik dat die kultes God vir hulself opeis. By hulle gaan dit nie om wat God wil hê nie, maar wat hul wil hê. God is dan net die stempel wat hul gebruik om hul leer en gebruike as gesagvol te laat merk. Selfs in die oë van hul navolgers is dit wat hul leiers sê, dit wat God sê. Hul verlossing en herstelde verhouding met God, hang van hul verhouding met die “goddelike” organisasie af. Wat is meer Godslasterlik as om God jou slaaf en stempel te wil maak – as om God te wil “beheer”?

BEHEER VERLOSSING:

Dit bring ons logies by die volgende punt uit – dat die kultes glo dat hulle die ewige verlossing van hul lede (eintlik van die hele wêreld) beheer. Kultes besluit wie die ewige lewe (volgens hul eie definisie daarvan – hetsy ‘n paradys aarde soos die Jehovah-getuies, of ‘n eie planeet om oor te regeer soos die Mormone) gaan beêrwe. Lifton noem hierdie kenmerk “the dispending of existence” (1961:433) en verwys hy na Mao Tse Tung se beskrywing van “people” en persone “outside the people” – dit wil sê wat eintlik nie mense is nie. ‘n Ekstreme voorbeeld hiervan by godsdienstige groep vind ons in Suid-Afrika by sekere “Israelvisie”-groepe, wat nie net glo dat nie-blankes per se buite die verbond val nie, maar ook dat hulle nie mense is nie. Een van 7 kenmerke wat Watters gee van kultes in sy stuk “Do cults follow the same patterns?” (Nov-Des. 1986:1) is dat die mens se saligheid afhang daarvan of hy aan die spesifieke kultegroep behoort of nie. Dit is ‘n logiese gevolg daarvan dat hulle hul groep sien as die enigste “organisasie van God”. As mens sonder die organisasie is glo die lid dat mens sonder God is. Soos God jou Vader is, is die Organisasie jou Moeder glo groepe soos die Jehovah-getuies byvoorbeeld. Geen egskeiding tussen God en Sy Organisasie is moontlik nie en daarom bestaan die moontlikheid van verlossing nie sonder die kultegroep nie. Watters wys verder daarop dat dit aanleiding gee tot ‘n sisteem van werksheiligheid; waarin God die individu alhoemeer aanvaar as kind, soos wat hy of sy alhoemeer volgens die wil van die organisasie optree. Hoe meer slaaf hy / sy is van die leiers van die kulte, hoe meer is hy / sy in God se goeie boekies. So kry die organisasie ‘n stewige beheer oor sy lede, want hul ewige lewe hang daarvan af om na die organisasie se pype te dans6 Hierby moet gemeld word dat sekerheid van verlossing nie vir die kultelede beskore is nie. Terwyl die Bybel ons leer dat as ons waarlik in Christus glo, ons kan weet dat ons die ewige lewe het (1 Jh. 5:20) kan kultelede tot op die laaste nie seker weesdat hulle dit gemaak het nie. Op die vraag “Is jy gered”, word die Jehovah-getuie byvoorbeeld geleer om te antwoord “Tot op hede, ja.” (Redeneringe uit die Skrif, 1985:347). Die verlossingsmag van Christus en die bekeringswerk van God die Heilige Gees word hierdeur ontken. Mens kry dan ook by die kultes ‘n afskaling van die Persoon van Jesus Christus en van die Heilige Gees. Die gehoorsaamheid aan die leier(s) van die kulte en die volharding in jou goeie werke word die bepalende faktor vir jou saligheid. Hutten (1957:34) sien die verwerping van die leerstelling van regverdiging deur genade (sola gratia) as die mees basiese kenmerk van ‘n kulte. Genade word nie gesien as die vrye gawe van God aan ‘n onwaardige sondaar nie, maar ‘n beloning wat verdien is deur die getroue voldoening aan ‘n verskeidenheid voorwaardes en vereistes. Hierteenoor leer die Bybel ons dat selfs diegeloof in die hart van die mens ‘n gawe van God is en dat verlossing dus glad nie uit die mens is en die mens  us geen rede het om op homself trots te wees nie (Ef. 2:8-10).

Hoekema (1963:380) wys in die verband daarop dat die mens van nature self heer en meester wil wees, veral ten opsigte van sy saligheid. Hy wil sy toekoms eerder in sy eie hande hou as om in dit van God afhanklik te wees. Hy stem dan met Hutten saam dat dit die fundamentele menslike dryfveer agter die kultes se protes teen die kerk is. Hoekema (1963:380-382) wys dan as voorbeeld op die Mormone en “Christian Science” wat sonder skroom die leerstelling van “uit genade alleen” verwerp. Die Mormone sien die leer as die oorsaak van die “verval” van die kerk. Elke mens se posisie in die ewigheid word volgens sy eie dade beoordeel. Volgens die “Christian Scientists” verkry mens verlossing van sonde deur op te hou sondig, of deur op te hou glo dat daar iets soos sonde is. Hier ook lê die oplossing in dit wat die mens bewerk en nie in die genade van God nie.  Hoekema wys dan daarop dat die kultes deur hul werksheiligheid en hul gevolglike verwerping van die “sola gratia” beginsel, lynreg teen die leer van die Bybel ingaan, soos byvoorbeeld gevind word in Rm. 11:6; Gl. 5:4 en Tit. 3:57. Miskien kan die wyse waarop die kultes die absolute beheer oor hulle lede se verlossing verkry het, die beste saamgevat word met die spreukwoord: “Hulle maak ‘n berg van ‘n molshoop”. Hoekema (1963:375-376) sê dat kultes tipies iets wat op die perifirie lê vat en daaraan veel meer prominensie te verleen as wat dit toekom, terwyl belangrike sake op sy beste ‘n tweede plek inneem. Die resultaat hiervan is dat hierdie sake wat op die perifirie moes lê die leerstellings van die kultes oorheers en so skeeftrek.

By die Mormone sluit dit sake in soos die “hemelse huwelik” en die “doop vir die dooies”, wat so oorheersend geword het dat mens daarsonder nie die hoogste saligheidsvlak kan bereik nie. Die Jehovah-getuies oorbeklemtoon weer die absolute belangrikheid van deur-tot-deur getuienis, bo die leef in geloof in Jesus Christus. Die “Christian Sciene” se beklemtoning van die genesing van die liggaam, het hul uitgebring by die miskenning van siekte, sonde, materie en dood. Die Sewendedagse Adventiste het weer die “derde engel se boodskap” om die sewende dag as die ware Sabbat te onderhou, so opgeblaas dat dit in hul teologiese sisteem meer klem ontvang as die saligmakende geloof in die Verlosser. Saam met die eie verlossing deur die kanale van die organisasie, kom by baie kulte by wat Lifton (1961:425-427) beskryf as die “cult of confession”. Baie kultes lê sterk klem op persoonlike belydenis. Die kultes se doel hiermee is om hul beheer oor hul lede verder te verstewig. Die belydenis van die lede voor die groep dien as ‘n soort persoonlikheids-reiniging vir hulle. Dit simboliseer ook selfopoffering en ‘n bereidheid om jou heeltemal aan die groep bloot te stel. Dit dien as bewys dat jy so een is met die groep dat selfs jou intiemste sake aan die groep bekend is en jy werklik ten volle daaraan behoort. Dit gee ook vir die lid kans om oor dinge van die verlede te bieg en so die verligting te verkry van onderdrukte skuldgevoelens. Hy voel ook nader aanhierdie mense wat sy diepste geheime deel. Lifton wys egter daarop dat dit in die praktyk gebeur dat die lede sekere dinge sê en ander dinge (wat die groep dalk in ‘n baie negatiewe lig sou sien) daaragter versteek word. So sal ou geheime vertel word, maar nuwes soos negatiewe gevoelens teenoor en twyfel oor die organisasie, onderdruk word. Die lid sit dan met die verwarrende stryd van om genoeg te sê dat hy eerlik klink, sonder om te veel te sê. Uiteindelik is die grens vir hom tussen wat bekend en wat nog privaat is onseker. ‘n Gevoel van minderwaardigheid teenoor die ander lede wat so baie van hom weet is ook dikwels die gevolg.unequally-yoked-apple_orange_small

Hassan (1988:64) waarsku dat hierdie belydenis voor die groep ‘n sterk instrument is wat die kultes gebruik om lede se emosies te beheer. Nadat die lid in die groep sy sondes bely het, is sy sondes nie vergewe en vergeet nie. Die oomblik wanneer die persoon uit fase met die res raak word dit opgeroep en gebruik om die persoon weer terug te dwing. Enigiets wat mens dus in ‘n belydenissessie by ‘n kulte sê kan en sal teen jou gebruik word. Dit kan selfs aanleiding gee daartoe dat jy afgepers word na die tyd. Dit word (in die woorde van Watters, Mar-Apr. 1990:11) ‘n sweep in die hande van die leiers om die dwarstrekkers en stangvasbyters mee aan te jaag. Kenmerkend van die kultes is dat baie tyd ingesit word om nuwe lede te werf. Die groei wat daardeur verkry word versterk die gedagte onder die lede dat God werklik met hulle organisasie is. Om seker te maak dat hul lede wel moeite sal doen om lede te werf het “evangelisasie” vol- gens Martin (1980:19) in baie kultes ‘n soort vereiste vir hul verlossing en saligmaking geword. Daar word dan ook geleer dat “evangelisasie” (- eintlik eerder proselietemakery) die kenmerk van ‘n ware toegewyde lid is en dat dit God lief is vir die lid wat hierin getrou en suksesvol is8 Omdat die kultes glo dat ewige verlossing en saligheid slegs deur middel van hulle organisasie moontlik is, maak dit dat die kultes absolute seggenskap oor sy lede verkry – omdat hulle nie ewig verlore wil gaan nie. Deur hulle lede se verlossing te beheer, beheers die kultes dus hul lede se lewens.

BEHEER SKRIFINTERPRETASIE:

Wat mens opval van baie van die kultes is dat dit lyk of hulle die Bybel ken en erns maak met die bestudering daarvan. So sal lede van die sogenaamde “Israelvisie” en die “World Wide Church of God” van Herbert Armstrong (- wat die bekende “Plain Truth” uitgee) mens vir ure van een geslagsregister in die Bybel na ‘n ander kan laat blaai om te bewys dat slegs rasegte Israeliete (waaronder die sogenaamde tien stammeryk) die ewige lewe kan beërwe. Die Ou en Nuwe Apostels kan mens weer na verse bring wat wys op die mag wat God aan die apostels sou gegee het. Die Jehovah-getuies kan mens weer van een vers na die ander vat om te probeer bewys dat Jesus ‘n skepsel en nie waarlik God is nie. Hierdie manier van die Bybel hanteer skep onder die mense met wie hulle praat die indruk dat hierdie kultelede werklik “die Bybel ken.” Wat hul nie besef nie is dat die mense nie werklik die Bybel so goed ken nie, maar wel hul organisasie se verdediging van hul valse standpunte uit die Bybel. Daar is ‘n uitdrukking in Afrikaans wat sê: “Elke ketter het sy letter” – dit wil sê elke dwaalleer het sy verse uit die Bybel wat hy wil gebruik ter ondersteuning van sy saak.

Om iemand buite verband aan te haal is oneties. Om God buite verband aan te haal is godlasterlik. Daarom is ‘n basiese vereiste vir die verklaring van die Bybel dat tekste gelees moet word in die konteks waarin dit staan; in konteks met al die ander gedeeltes in die Bybel wat oor hierdie saak gaan; en met inagneming van die literatuursoort (- mens lees digterlike stof soos die Psalms anders as geskiedkundige stof soos die Evangelies). Watters (Nov-Des. 1986:1) sê dat dit tipies van die kultes is dat hulle die Bybel wil “vereenvoudig” om die boodskap daarvan meer verstaanbaar vir die rasionele mens te maak. So kan dit wat nie ooreenstem met hulle denke nie in die slag bly. Deel hiervan is om skynbare paradokse of antinomië in die Skrif te misken deur die een gedeelte daarvan te aanvaar en die ander te verwerp. So sal byvoorbeeld die Godwees van Jesus verwerp word om Sy menswees meer aanvaarbaar te maak, of omgekeerd. Die meer verstaanbare liefde van God sal die bestaan van die hel vir hulle onmoontlik maak. Hier kan mens byvoeg dat die Ou Testamentiese beskrywing van Israel as volk van God, deurgetrek word na vandag ten koste van die wyer betekenis wat dit in die Nuwe Testamentiese tyd verkry het; ensovoorts. Watters wys verder daarop dat die kultes ‘n ander basis vir die verklaring van die Bybel daar moet stel. Die basiese metode van Skrifverklaring op grond van die grammatika, die voortgaande historiese lyn en die konteks word verwerp, want dit sal vir hulle by dieselfde gevolgtrekkings uitbring as die Christendom. Die oplossing is om dan om hul lede se manier van kyk na die Bybel te verander. Buite-Bybelse openbarings word dan voorsien deur die leiers van die kultes wat dan “nuwe lig” gee op die interpretasie van Bybelse waarhede. Daar word selde enige aanduiding gegee van ‘n konstante metode van Bybelverklaring9. Elke kulte-leier glo hy (of hulle) is God se kommunikasiekanaal met die mensdom en wat hy verkondig IS absoluut die “waarheid”.

Martin (1968:33) stel tereg dat die sogenaamde “nuwe insigte” van die kultes niks anders is as ou dwaalleer met nuwe gesigte nieı. Dit word aangebied onder die “goddelike” gesag van leiers soos Mary Baker Eddy, Joseph Smith, Herbert W. Amstrong, Pastor Russell, Rasjnees, Maharaj Ji, L. Ron Hubbard, Sun Myung Moon, Jim Jones, Swami Prabhupada (Hare Krishnas se stigter) ensovoorts. Hierdie gesag wat hulle het kom volgens hulle of van ‘n persoonlike openbaring aan hulle van ‘n goddelike persoon, of van ‘n persoonlike aanstelling of benoeming deur die godheid (Martin, 1980:17-18). Tucker (1989:12) stel dat ons hier met een van die wesenlike verskille tussen die Christene en die sogenaamde Christelike (maar in wese eerder anti-christelike) kultes te doen het. Die Christelike kerke sal die leerstellings van hulle voorgangers soos Luther, Calvyn of Wesley, net as reg aanvaar in soverre dit ooreenstem met die Bybel. Hierdie mense het ook nie aanspraak gemaak op buite-Bybelse openbaringe of gesagvolle geskrifte uit hulle penne nie. Die leiers van die kultes maak daarenteen (in weerwil van dit wat in Op. 22:18-19 staan) aanspraak op spesiale openbaringe van God. Tucker verwys dan na Joseph Smith as voorbeeld wat ‘n groot deel van die leerstellings van die Mormone (onder andere die hele Boek van Mormon) basseer op spesiale openbaringe aan hom. Juis die sogenaamde verskyning van goddelike figure aan hom, word deur sy navolgers as die bewysgrond van hierdie ekstra openbaringe gesien.

Martin (1980:19) wys daarop dat die meeste kultusleiers weinig of geen teologiese opleiding gehad het nie. Werner Erhard (van “est” en “The Forum”) se werk was om tweedehandse motors en ensiklopedië te verkoop; Carl Stevens (van “The Bible Speaks”) was ‘n vragmotorbestuurder vir ‘n bakkery; L. Ron Hubbard (van “Scientology”) was ‘n wetenskapfiksie skrywer; en iemand soos Victor Paul Weirwille (van “The Way International”) het sy Ph.D graad in teologie deur ‘n posbestellings graadverskaffersdiens gekry. Hierby kan die name gevoeg word van Russell wat ‘n besigheidsman was en dan die leiers van die “Ambassadeurs vir Christus” (wat die laaste tyd in Suid-Afrika baie in die nuus was), Johan van Niekerk – ‘n mediese dokter en Dolf Odendaal – ‘n boukontrakteur (Swanepoel, 1991:81). Hierteenoor was iemand soos Jim Jones wel ‘n bevestigde predikant (Hassan, 1988:97). Om vir die gebrek aan wetenskaplikheid van hulle leiers te vergoed, vind ons by die kultes ‘n geneigdheid om erkende wetenskaplikes te soek wat klink of hul ten opsigte van een of ander puntjie met hulle saamstem. Hierdie mense word dan baie keer heeltemal buite konteks en selfs verkeerd aangehaal, om so by die lede van die kultes die gedagte te laat posvat dat hulle leer ook wetenskaplik verantwoordbaar is. Watters (Nov-Des.1986:2-3) noem dit “the scolastic dishonesty of the cult”. Wanneer die leiers van kultes daarvan beskuldig word dat hulle verklaringsfoute gemaak het deurdat hulle byvoorbeelddie Bybelse taal verkeerd verstaan het, of hul geskiedkundige feite verkeerd is (byvoorbeeld die datum vir die val van Jerusalem by die Jehovah-getuies waarop hulle hul berekenings van 1914 basseer), sal die leiers hierdie aantygings gewoonlik ignoreer (of beskryf as swartsmeerdery).

Unknown file errorWanneer genoeg debat oor die saak ontstaan, word hulle egter gedwing om ‘n aanvaarbare antwoord aan hulle lede te gee. Dit word gedoen deur of ‘n wanvoorstelling te maak oor die saak waarom dit gaan – ‘n strooipop te maak wat maklik afgebreek kan word; of hulle sal orals soek wat bekend is as ‘n kenner wat op een van die puntjies met hulle saamstem. Omdat hulle daarin gewoonlik ook nie slaag nie, sal hulle hul wend tot liberale of eksentrieke denkers en voorgee dat hulle aanvaarbare kenners is. Wanneer werklike kenners wel aangehaal word, word hulle stellings gewoonlik net gedeeltelik en buite konteks aangehaal. Hiermee kom hulle gewoonlik weg want min kenners het die tyd, geld of lus om ‘n hofgeding oor die saak te begin nie. Die lede van die kultes aanvaar geredelik al hierdie “bewyse”. Hulle is buitendien nie veronderstel om die boeke van hierdie kenners te bestudeer nie. Hassan (1988:98-99) stel dat die meeste leiers van kultes hulself glo dat hul van God gestuur of self goddelik is. Baie van hierdie leiers laat dit klink of hul God en die Bybel as gesag bo hul erken; MAAR HULLE VERKLARING VAN DIE BYBEL EN VAN GODS WIL word gebruik om hul navolgers te manipuleer en te beheer. Die kultes het nie ‘n spesifieke VERKLARINGSMETODE nie. Veldhuizen (1980:18-19) wys daarop dat die Bybel dikwels deur hierdie groepe op ‘n biblisistiese en fundamentalistiese manier gebruik word. Hieronde verstaan hy dat die Bybel deur hulle gelees en bestudeer word sonder om ‘n oog te hê vir die samehang van die tekste, vir die eie styl en bedoeling  van die Bybelskrywers, vir die tyd van ontstaan van ‘n bepaalde Bybelboek, vir die historiese agtergrond ensovoorts. Die taal van die boek Openbaringe is vir die fundamentaliste byvoorbeeld dieselfde as die van die boek Genesis of Eksodus of Psalms. Hy wys dan daar op dat die Jehovah-getuies die getal 144 000 in Openbaringe letterlik opneem. Mens kan hier byvoeg dat die Jehovah-getuies verse uit Prediker gebruik om te bewys dat daar geen voortbestaan na die dood is nie, sonder om in ag te neem dat die prediker daar vanuit die hoek van die mens sonder God (van “onder die son gesien”) na sake kyk en juis die tevergeefsheid van so ‘n kyk na die wêreld aandui. Veldhuizen sê dan dat hierdie biblisistiese en fundamentalistiese verklaringsmetode baie Bybels lyk, maar dat dit beslis nie is nie, omdat dit nie reg doen aan die bedoeling van die Skrif nie. Dit haal dus met ander woorde God buite konteks aan.

Tog hou die kultes nie by hierdie verklaringsmetodes nie. Wanneer dit hul pas sê hulle byvoorbeeld in hul berekenings oor die voleinding van die wêreld of die wederkoms van Christus dat “een dag” nie letterlik opgevat moet word nie, maar ‘n beskrywing van duisend jaar is, ensovoorts. Hul gebruik dus die verklaringsmetode (of gebrek daaraan) wat inpas by hulle leerstellings. Hoe ‘n saak of teks verklaar moet word hang af van hoe die organisasie dit in hul publikasies verklaar. Watters (Nov-Des. 1986:2) sê dus tereg dat die publikasies van die kultes hulle verklaringsmetode is. Die VERKLARINGS wat ‘n kulte vandag gee kan VERSKIL met dit wat in die verlede as absoluut waar beskou is. So het die Wagtoring in ‘n stadium geleer dat “inenting ‘n fragrante verbreking van die ewige wet van God is”, maar later inenting as iets goeds beskryf. Watters (Nov-Des. 1986:2) sê dat die kultes hulle veranderings in leerstellings toeskryf daaraan dat God progressief besig is om alles aan hulle te openbaar10. Aantygings dat hulle leerstellige veranderings gemaak het, word beantwoord dat dit net “ophelderings” van sake was. By dit alles reeds gesê is dit belangrik om te besef dat ‘n kenmerk van die kultes is dat hul almal GESAGVOLLE LITERATUUR het, wat by die Bybel byvoeg of dit vervang as Woord van God. Martin (1980:18) wys op verskillende voorbeelde hiervan: Die Hare Krishnas stel dat hulle leer in ooreenstemming met die Bybel is, maar voeg daarby die Hindu Skrifte as hul “hoogste” openba- ring van God – al weerspreek dit die Bybel direk. Die “Unification Church” (Moonies) glo dat die “Divine Principle” deur Sun Myung Moon, die Bybel vandag is. Hoekema (1963:378-379) noem die “buite-Bybelse gesagsbron” as die heel eerste en uitstaande kenmerk van ‘n kulte. Hy verwys dan na die “Swedenborgiane” wat met die Bybel in die een hand en met een van Swedenborg se boeke in die ander hand staan. Hy kom dan saam met Hutten tot die gevolgtrekking dat alle kultes so ‘n ekstra boek of boeke saam met die Bybel in die hand het. Hy verwys ook na die Mormone vir wie die Boek van Mormon, Leerstellings en Verbonde en Die Pêrel van groot waarde, meer gesag dra as die Bybel. Hoewel die “Christian Scientist” uit die Bybel voorlees tydens hulle dienste op Sondae, is dit die boek van Eddy, “Science and health, with key to the Scriptures” wat die gesagvolle verklaring daarvan bied. Hy wys ook op die Jehovah-getuies wat daarop aanspraak maak dat die Bybel alleen gesagvol is, maar terselfdertyd stel dat dit net verstaan mag word soos hulle leiers dit in hulle publikasies interpreteer. Hierteenoor is die Bybel (in die woorde van Martin, 1980:15) vir die Christendom die finale arbiter teenoor die uitdagings van die kultes. Die Bybel leer ons dat sekere artikels van die Christelike geloof noodsaaklik is vir ons saligheid, naamlik:

– Die Wese en natuur van God.

– Die Persoon en werk van Christus.

– Sy opofferende kruisdood en liggaamlike opstanding.

– Die mens se sondige natuur en die weg tot verlossing.

– Christus se uiteindelike wederkoms en die ewige lewe.

Die kultes gee aan al hierdie sake hulle eie menslike verklaringe en probeer dan die Bybel dit te

laat buikspreek. Deur die verklaring van die Bybel te “beheer”, kry die kultes hul lede so ver om te glo dat net hulle waarlik “God se Organisasie” is.

BEHEER LEERSTELLINGS:

Dat enige godsdienstige organisasie beheer oor sy leerstellings moet hê is logies. Mense moet tog weet wat daar geleer word en waarop dit gebasseer word. Die verskil tussen die Christelike kerke en die sogenaamde Christelike kultes lê in die gesagsbron. Vir die kerke het die Bybel die hoogste gesag, sodat alles wat geleer word voortdurend daaraan gemeet word. By die kultes word die gesag van die Bybel ondergeskik gestel aan die “nuwe lig” wat die leiers ontvang het ten opsigte van sekere leerstellings en die “verklaring” daarvan uit die Skrif. Strenggesproke beheer die kerke nie hulle leerstellings nie – dit is slegs ‘n samevattende opsomming van wat die Skrif sê en moet voortdurend daaraan getoets word. Die kultes beheer egter hulle leerstellings so volkome dat hulle dit kan verander soos wat hulle dit wil en dan aanspraak daarop te maak dat dit deel is van God se voortgaande openbaring. By die kerke is ‘n kritiese inspeel van die lidmate op grond van wat die Skrif sê dus moontlik. By die kulte mag die lede nie die leerstellings bevraagteken nie – omdat dit sogenaamd openbaringe van God is. Hassan (1988:99) sê dat mens van enige groepslid sal verwag om te glo wat die groep glo. Die verskil kom daarby in dat die kultes die “waarheid” verander om by die veranderde situasie in te pas; omdat hulle glo dat die doel die middel heilig. Die kerke verander nie hulle leerstellings om die publiek of hul lede te mislei nie, maar die kultes is bereid om dit te doen met die doel om mense te “red”. Ons kan in hierdie verband wys na die Jehovah-getuies wat die EINDE van alle oorloë vir 1914 voorspel het en later voorgegee het dat die BEGIN van die eerste wêreldoorlog die bewys is dat hulle profesië uitgekom het.

Lifton (1961:427-429) beskryf die absolute beheer wat die kultes oor hul leerstellings uitoefen met die term “sacred science”. Die totalistiese gemeenskap adem ‘n geur van heiligheid rondom hulle basiese leerstellings. Dit is veral waar van die godsdienstige kultes wat hulle leerstellings as van God self geopenbaar sien. Hierdie heiligheid blyk volgens Lifton byvoorbeeld daaruit dat die lede verbied word om die basiese leerstellings te bevraagteken en die agting wat hulle moet hê vir hul leiers as kanaal van God en die geskrifte waarin die leer uiteengesit word. Daar word dus nie geleer dat die mens God is nie, maar wel dat sy idees die van God is. By die heiligheid maak die kultes daarop aanspraak dat hulle leer absoluut logies is en met wetenskaplike presiesheid uitgewerk is. Enige teenstand teen die leerstellings is daarom nie net immoreel nie, maar ook onlogies11. Dit verskaf nie net sekerheid en gemoedsrus nie, maar Lifton wys ook daarop dat die lede se soeke na meer kennis hierdeur gestil word. In die naam van wetenskaplikheid word die lede dus verhinder om soos ‘n ware wetenskaplike alle relevante data oor ‘n leerstelling bymekaar te maak. Deel van hierdie “onwetenskaplikheid” is dat die kultelede, volgens Hassan (1988:78-79) ook nie toegelaat word om na hulle leerstellings as teorië, of as ‘n manier om die werklikheid te interpreteer, te kyk nie. Vir die kultelid is die leerstelling die werklikheid. Sekere groepe gaan selfs so ver om te leer dat die hele materiële wêreld ‘n illusie is en dat alle denke, begeertes en handelinge(behalwe die deur die kulte voorgeskryf) dus nie werklik bestaan nie. Die effektiefste leerstellings is die wat nie evalueerbaar of verifieerbaar is nie. Omdat die leerstellings die absolute en onoortwyfelbare “waarheid” is, is enigiets wat nie logies of konsekwent lyk nie ‘n gevolg van die lid se eie gebrekkige verstaan daarvan. Van die lid word dan vereis om hard te werk om dit te kan verstaan.

Waar die kultes wel gedwing word om veranderings aan hulle leerstellings te bring, het ons reeds gesien dat dit aan die lede opgedis word as “nuwe lig” of “voortgaande openbaringe”. Dit komdus in die oë van die lede nie deur kritiese indringende gesprek nie, maar van ‘n bo-natuurlike oorsprong. God sorg dus self vir die “korrektheid” van die kultes se leerstellings – die lede hoef nie hul daaroor te bekommer nie. Hierby is ook reeds daarop gewys dat die kultes se “nuwe lig” oor leerstellings nie werklik nuut is nie, maar ou ketterye met nuwe gesigte is. ‘n Belangrike kenmerk van kultes is dat dit voorgee om Christelik te wees, terwyl hul in der waarheid met die basiese leerstellings van die Christendom verskil. Om vas te stel of ‘n groep ‘n “skyn-Christelike” kultus is, moet dus deeglik na hulle leerstellings gekyk word. Om die basiese Christelike leerstellings vas te stel om die sogenaamde kultegroepe aan te meet, is nie so eenvoudig nie. Waarskynlik is dit die beste om te volstaan met die leerstellings vervat in die vroegste geloofsbelydenisse van die Christelike kerk, soos die “Apostoliese Geloofsbelydenis”, die “Geloofsbelydenis van Nicea” en die “Geloofsbelydenis van Athanasius”. Om vas te stel of ‘n groep Christelik is of nie, moet so ‘n groep volgens Martin (1980:15) ten minste glo in die Drie-eenheid, die Godwees van Christus, Sy versoening in ons plek gedoen, Sy liggaamlike opstanding, verlossing uit genade en die sigbare wederkoms van Christus. Tucker (1989:400-406) se siening sluit nou by die van Martin aan. Om te onderskei of ‘n groep werklik Christelik is, moet ten opsigte van hul leerstellings gekyk word na die volgende: • Hul leerstellings oor God: Glo hulle in die Drie-eenheid, asook in die Godwees van Jesus en die Heilige Gees en die gelykwees van die drie Persone as een God.

  • Hul leerstellings oor Christus: Glo hulle dat Hy waarlik God en waarlik mens is.
  • Hul leerstellings oor die mens en sonde: Glo hulle dat die mens na die beeld van God geskep is, maar dat dit deur die sondeval verwring is en die mens nou ‘n sondaar is.
  • Hul leerstellings oor die verlossing: Dat dit deur Christus se versoeningswerk plaasvind.
  • Hul leerstellings oor die kerk: Onderskei hulle die sigbare en onsigbare kerk van God; of sien hulle hul organisasie as die enigste ware gelowiges.
  • Hul leerstellings oor die Skrif: Glo hulle dat die Bybel Woord van God is en dat niks hierby bygevoeg of weggeneem mag word nie.
  • Hul leerstellings oor die toekomende dinge: Glo hulle dat Jesus Christus self sigbaar weer kom om te oordeel (- geen reïnkarnasie nie); en dat die tyd hiervoor onbekend is (- geen datum gestel of geprofeteer kan word nie).

Tucker wys dan tereg daarop dat bogenoemde die basiese geloofsleer, gegrond op die Skrif, is, wat deur al drie takke van die Christendom (Protestants, Rooms Katoliek en Grieks Ortodoks) as basies gesien word. Deur die eeue het verskillende kerklike vergaderings en belydenisskrifte, saam met die werk van groot teoloë, die grense van die ortodokse Christendom gelê. Wat opvallend is, is dat in hierdie 19 eeue daar eenstemmigheid ten opsigte van die basiese geloofsleer is, sodat kulte en alternatiewe godsdienste in verre weg die meeste gevalle maklik uitgeken word as buite die grense van ortodoksie. Die verwarring wat die kultes vandag in sommige kringe gebring het, kan dus uitgeskakel word as gelet word op soortgelyke debatte wat in die verlede al met ketters gevoer is en die grondwaarhede van die Skrif wat uiteindelik telkens weer bevestig is12 Martin (1980:1) som die beheer van die kulte oor hul leerstellings raak op met die woorde: “They take biblial Christianity and change it into a clever counterfeit of the real thing.” ‘n Kulte is dus geensins Christelik nie – al doen hy hom ook hoe so voor. ‘n Kulte is in wese anti-Christelik.Burn

BEHEER LIDMAATSKAP:

Hassan (1988:99-104) sien lidmaatskap as die laaste en mees belangrikste kriteria vir die meet of ‘n groep ‘n kulte is of nie. Hy verdeel dan sy bespreking van lidmaatskap in drie dele, naamlik werwing, groepsbehoud en vryheid om te bedank: Die basiese kenmerk van die WERWING van nuwe lede by die meeste kultes is volgens Hassan misleiding. Dit is nie vir die kultes verkeerd om die mense te mislei nie, want dit word mos in belang van hierdie mense gedoen. So sal die groep hulle in die begin as “baie dieselfde” as die resvan die Christendom voorhou en soos die persoon dan ingetrek word, geleidelik hom inlei in dievolle leerstellings van die kulte. Aansluitend hierby is dit opvallend hoe die boek waarmee die Jehovah-getuies “Bybelstudie” doen by aspirant lede (“Jy kan vir ewig in die paradys op aarde lewe”) eers by dinge begin wat nie so vreemd op die Christen se oor klink nie soos “Ewige lewe is nie net ‘n droom nie” en “Jou godsdiens maak wel saak”, voordat later by die eintlike leer oor die organisasie uitgekom word met onderwerpe soos “Hoe om ‘n onderdaan van God se regering te word”; “Hoe om die ware godsdiens uit te ken” en “God se sigbare organisasie” – om dan uiteindelik op die laaste bladsy die kruks van alles wat gesê is saam te vat: “Jy moet deel van Jehovah se organisasie wees en God se wil doen om die ewige lewe te ontvang.” (1982:255).Hassan (1988:41-44) beskryf hoe die kultes hul werwing doen om soveel sukses te kan behaal. Anders as wat dikwels gemeen word, soek die kultes by voorkeur mense uit wat intelligent, talentvol en suksesvol is – mense wat weer op hulle beurt goeie oorreders en verkopers van hulle kulte by ander kan wees. Hierdie “verkoopsmense” word goed opgelei sodat hulle weet hoe om net die beste kant van die organisasie aan ander te wys, hulle negatiewe gevoelens en afkeur weg te steek en om altyd ‘n glimlag gereed te hê sodat hulle gelukkig lyk13.

Wat mens opval van lede van die verskillende kultes is dat hulle baie goed opgelei is in oorredingskommunikasie. Hulle weet gewoonlik hoe om hulle “prooi” op te som, betrokke te kry en laat goed voel. Hassan sê dat die Moonies pertinent geleer word om mense van verskillende persoonlikheidstipes, verskillend te hanteer. Hulle het die mense ingedeel in denkers, voelers, doeners en glo-ers. Denkers word op ‘n intelektuele wyse benader; voelers met baie liefde en belangstelling; doeners met die werk wat die kulte mee besig is om van die wêreld iets beter te maak; en glo-ers word benader om te glo dat God hierdie kultelid op sy pad geplaas het. Anders as wat mens sou dink val die meeste mense nie in die glo-ers-groep nie, maar by die voelers en doeners. Hassan wys verder daarop dat die gewone man nie werklik ‘n kans het teen die goeduitgewerkte benadering van die kultes nie. Mense weet nie werklik dat “hierdie gawe persoon” besig is met ‘n aanslag op sy hele bestaan nie. Buitendien dink mense mos dat “so iets sal nooit met my gebeur nie”. Juis hierdie swakheid dat die publiek glo dat hulle in beheer van hulle lewe is en nie vir iets verkeerds sal val nie, word deur die lede van kultes uitgebuit in hul werwing van persone. Hier kan ons byvoeg dat mense byvoorbeeld ‘n “Bybelstudie” met Jehovah-getuies sal begin, terwyl hulle meen dat hulle tog nie deur hierdie mense oortuig sal word nie (vergelyk gevallestudies). Buitendien is geen mens so denkend as wat hy dink nie, maar speel behoeftes soos liefde, vriendskap, aandag, aanvaarding ensovoorts ‘n belangrike rol in ons lewens. Die tweede saak wat Hassan onder die tipiese kenmerke van lidmaatskap van ‘n kulte bahandel is `GROEPSBEHOUD’. Dit word bereik deur die kulte-aktiwiteite so te organiseer dat dit die nuwe lid se familie- en vriendskapsverhoudings skaad. Solank die vriende en familie nog moontlike teikens (“rou vleis” is die term daarvoor wat die “Church of Scientology” gebruik) is, mag die nuwelinge nog tyd met hulle spandeer om met hulle te kan werk. As hulle egter aandui dat hulle nooit sal aansluit nie en bekommerd oor sy betrokkenheid daar is, word die nuwe lid deur sy kulteleiers ontmoedig om meer tyd met die “ongelowiges” te spandeer. Die kultes kan nie teenstand verdra nie. Die nuwe lid moet leer dat hulle wat nie wil saamstem nie, die vyand is.

Martin (1980:18) wys in die verband daarop dat die kultes streng standaarde vir lidmaatskap het waaraan ‘n persoon moet voldoen om lid te wees. Diegene wat dit durf waag om af te wyk van dit wat sy kulte van hom verwag, word onmiddelik teen opgetree; en as sake nie baie gou verander nie, geskors – met al die sielswroeging en sosiale probleme wat dit vir die oudlid meebring. Die derde tipiese kenmerk betreffende kulte-lidmaatskap, is die GEBREK AAN VRYHEID OM TE KAN BEDANK. Mense is vry om by ‘n kulte aan te sluit, maar nie vry om weer te bedank nie. In die oë van die kultes is daar geen wettige rede om te bedank nie. Daarom word lede wat bedank gewoonlik geskors, want die bedanking is “sonde” en vereis die kwaaiste straf, naamlik skorsing uit “God se organisasie”. Terwyl sekere groepe net hul mense verbied om met die oudlede kontak te hê en hulle baie swartsmeer, vind mens by ander kultegroepe voorbeelde van fisiese vervolging van oudlede. Hassan verwys na ‘n klompie sulke voorvalle, soos byvoorbeeld ‘n oudlid van die Hare Krishnas, Stephen Bryant, wat na sy uittrede uit die groep, in opdrag van een van die kulte se leiers deur ‘n lid van die groep doodgeskiet is. Watters (Nov-Des. 1986:2) wys op die hoë prys wat iemand moet betaal wat uit ‘n kulte bedank, deurdat hy sowel sy geestelike as sy letterlike familie wat nog in die kulte is permanent verloor. Dit gebeur omdat die kultes hulle lede verbied om met oudlede te praat. ‘n Lid wat wel met oudlede kontak hou loop self gevaar om uitgeskop te word. Behalwe dat hy die vriendekring wat hy in die kulte opgebou het verloor, wys Martin (1980:18) daar op dat die persoon wat bedank ook sy “doel in die lewe” en “gevoel van sinvolheid”, asook die “goedkeuring” van God verloor. Hieruit kan ons die gevolgtrekking maak dat as so ‘n oudlid nie in ‘n ander belangstellende gemeenskap (byvoorbeeld die gemeenskap van ‘n Christelike kerk ingetrek word nie, die gebrek aan vriende en gevoel van sinvolheid so ‘n persoon terug kan laat gaan na die kulte – om waarskynlik dit nooit weer te waag om daar uit te probeer gaan nie.

Watters (Nov-Des. 1986:3) wys op die verskriklike waarheid dat ‘n kulte, wat in die begin van hul bestaan dalk self vervolg en swartgesmeer is, later self ‘n vervolger word. Waar hulle ‘n groep was wat van die Christendom af weggebreek het, sit hulle later self met baie wat weer van hulle wegbreek. Omdat hul lede hul bron van mag en inkomste is, kan dit nie geduld word nie – vandaar dat hul selfs hul lede opdrag gee om die wat hul verlaat te haat en nie eers te groet nie, maar sover moontlik soos die pes te vermy. Terwyl kleiner opkomende kultes nog nie te streng op hulle lede kan wees nie, wys Watters (Nov-Des. 1986:7-8) daar op dat die Jehovah-getuies vandag verkies om enigeen uit die organisasie te verwyder (selfs van hulle heel top mense soos Raymond France) as die persoon dinge in die publiek of privaat sê wat in stryd is met die leer van die organisasie14. Dit bring mee dat daar by die Jehovah-getuies – soos by die meeste ander kultes – ‘n taamlike wisseling in lede plaasvind. Die Getuies maak egter meer as op vir die persone wat wegval deur die nuwe lede wat deur hulle deur tot deur aktiwiteite gewerf word en wat ingetrek kan word deur hierdie vriendelike mense wat voorgee dat hulle “in die waarheid” is. Die hartseer is dat diegene wat wel loskom uit die kultes gewoonlik soveel newe-effekte daarvan oorhou. Swanepoel (1991:81) wys daarop dat mense wat uit die kultes kom baie keer “in niks meer glo nie”. Watters (Nov-Des. 1986:3) praat van “the silent victims”. Min dinge is so hartseer as iemand wat X-aantal jare sy tyd en energie gemors het in ‘n valse godsdiens. Watters wys dan daarop dat dit dikwels die oudlede baie wantrouig maak teenoor alle godsdienste. Vir baie jare het hy net kwaadwillige informasie oor alle ander godsdienste ingekry. Nou is dit uiters moeilik om een weer te vertrou. Buitendien vrees hy om weer ‘n slaaf te word; dat die kerk ook sy lewe soos die kulte sal beheer.

HOE ANTWOORD EK IEMAND VAN ‘N KULTE?

 AGTERGROND:

 Ooreenkomste

Ons moet onthou dat daar sekere ooreenkomste is tussen die Ware kerk en die kulte. Hulle ken hierdie ooreenkomste en sal daarby aansluiting soek om ander mense te probeer oorhaal na hulle geloof.

  • die eerste Christelike kerk is aanvanklik deur die Jode as ‘n kulte gesien omdat hulle een Man volg; hulle is ook gesien as ‘n “geheimsinnige” kerk as gevolg van die feit dat hulle weggekruip het vir die vervolging.
  • Verder is die Christelike geskrifte nie as kanon gesien nie. Die Nuwe Testament word immers nou nog nie as deel van die Joodse kanon erken nie
  • Die Christene, soos lede van kultes, was ook baie toegewyd en het eendragtig in groepe vergader met gebed.
  • Die eerste kerk is ook fel vervolg en as “ketters” uitgekryt. Die kultes ervaar dieselfde teëkanting.

Dit laat die volgende vrae ontstaan:

  • Wie sê hierdie kulte is nie weer die begin van die ware kerk nie? Het die “ou” kerke nie ook verval soos die Joodse kerke verval het nie?
  • Hoekom kan ons sê dat die Kulte verkeerd is? Waar kry ‘n mens die reg om iemand anders te veroordeel?
  • Behoort mens iemand teë te gaan wat ook werk vir die Here?

images (3)Ons gee die volgende antwoord:

  • Geen mens kan die plek van Jesus Christus inneem nie. Hy is God, die mensgeworde Woord wat die volkome versoening vir al ons sonde gedoen het. Nêrens is daar enige aanduiding dat Hy weer sal verskyn voor die wederkoms nie. Inteendeel, die Bybel leer ons juis dat die Antichris sal opstaan en homself sal voordoen as Christus.
  • In die ware kerk gaan dit oor die suiwer bediening van Gods woord. Sola scriptura. Geen enkeling, kerk of organisasie kan nie enigste interpretasie van die Skrif hê nie. Die Skrifgesag lê in Skrif. Hele Skrif. Sakramente moet suiwer bedien word. Tug moet suiwer bedien word.
  • Daar mag nie toegelaat word dat die mens die werk van die Antichris bevorder nie.

Wat leer ons van die kulte?

  • Hulle toegewydheid is seker een van hulle sterkste punte. Hulle ontsien geen moeite, tyd, energie om dit wat hulle glo, uit te dra nie. Ons wat volle genade van God het, moet dieselfde doen. Bestudeer die dogma en dra dit uit!
  • Hulle onderlinge liefde, koinonia, is iets waarvan ons meer kan hê. Hoewel hulle motiewe ten opsigte van hierdie onderlinge gemeenskap nie altyd ewe duidelik is nie, is dit tot een van die aspekte wat hulle gebruik om hulleself meer aantreklik te maak vir lidmate van die “dooie” kerke. Ons verdra mekaar dalk – maar het ons mekaar werklik so lief dat ons met almal dal (wil) saamleef?
  • Ons moet nie twyfel oor ons eie dogma nie. Ons moet wel ‘n deeglike studie maak van ons eie dogma, sodat ons nie net weer WAT ons leer nie, maar ook WAAROM ons dit leer en wat die Skrifgronde vir die dogma is. Ons moet ook weet presies wat die plek van die dogma in die kerk is om hulle wanopvatting van die kerk te kan antwoord.
  • Dit noop ons tot beter Skrifkennis. Die meeste mense dink dat die kultes ‘n baie goeie Skrifkennis het. Tog moet mens uit die Skrif die volle raad en al die aspekte van die verlossingswerk van God ken om ‘n antwoord te gee.
  • Hulle erns met evangelisasie maak dat ons in skadu van kultes staan. Ons sien hulle ywer, maar is self nie bereid om iets soortgelyks te doen nie. Die gevolg is dat al meer mense na hulle prediking luister en die ware kerk in die skande gesteek word omdat sy nie haar werk doen nie.

Houding teenoor kulte

1 Petrus 3:15: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Weinig van hulle het die sekerheid van die Bybelse hoop. As hulle afdwaal, is hulle verlore. Ons weet ons Verlosser leef. Ons moet in die lig van Heidelbergse Kategismus Sondag 33 altyd wegvlug van die sonde en Satan, reguit in die arms van ons hemelse Vader.

MOENIES

  • Moenie vyandig wees nie. Moenie die deur in hulle gesig toeslaan nie. Hulle leer dat as hulle teëstand kry dit juis die teken is dat Satan in hierdie huis werk. Dit is juis vir hulle ‘n bevestiging van die “waarheid” wat hulle leer.
  • Moenie hatig met hulle argumenteer nie. Hulle sien hierdie weerstand dieselfde as hierbo en maak hulle net meer oortuig dat hulle reg is. Verder sal jy nie ver vorder met logiese argumente nie, omdat hulle juis met soveel emosie hulle godsdiens beleef.
  • Moenie sê dat hulle verkeerd is nie. Hulle is geleer dat hulle eie dogma die waarheid is wat op die Woord van God rus. Stel aan hulle die werklike boodskap van die Bybel – dit is wat hulle moet hoor.
  • Moenie angstig wees nie. Dan is jy die maklikste prooi denkbaar. Hulle sal dan al hulle energie op jou toespits, totdat jy uiteindelik ingee. Jy het die waarheid van God se woord. Bid om die leiding van die Heilige Gees. Jy kan hulle nie alleen aanpak nie. Vra intelligente vrae en gee intelligente antwoorde.

MOETS

  • Openbaar die gawe van geduld: Al maak hulle redenasies geen sin nie en al klink hulle argumente hoe onnosel – hulle is oortuig van hulle saak. Jy is mos ook oortuig van jou saak. Ongeduld hoort nie in die gesprek nie, omdat dit jou eie onvermoë beklemtoon.
  • Toon begrip vir hulle siening van die Skrif. Hulle besef nie werklik wat hulle fout is nie, en moet heel subtiel benader word om wel die fout raak te sien.
  • Onthou dat hulle leerstelling vir hulle net so belangrik is as wat ons belydenisskrifte vir ons is. Soos ons voel as hulle dit afkraak, so is die gevoel ook as ons sê dat hulle belydenisse verkeerd is.
  • Deur aan hulle die ware liefde van Christus te verkondig en só op te tree, trek mens hulle eerder as met baie woorde.
  • Die liefde van die kulte bind, die liefde van Christus maak vry. As die liefde so aan hulle voorgehou kan word sonder dat hulle daardeur bedreig voel, sal dit vir hulle meer aantreklik word en kan hulle so hulle eie foute raaksien.

Bibliografie:

loveunity1 Die engelse term “sect” word met `sekte’ vertaal en “occult” met `okkulte’. Om verwarring te voorkom met ander betekenisse van die woord `kultus’ wat partykeer gebruik word om die woord “cult” mee te vertaal, is dit beter om eerder (soos met `sekte’ en `okkulte’) net ‘n `-e’ agter “cult” te voeg om dit `kulte’ te maak. Die meervoud is dan `kultes’ soos `sekte’ se meervoud `sektes’ is.

2 Dat ander ook hierdie probleem aanvoel blyk uit die vertaalde weergawe van Dr. Walter Martin se  boek: “The New Age Cult”. Struik het hierdie boek in Afrikaans uitgegee (1989) onder die titel “Die Nuwe Era Kultus”.3 Dit is eintlik nie waar nie. Calvyn het beklemtoon dat die Heilige Skrif sy eie interpreteerder is. Dit gaan dus oor die Bybel – dit wil sê God – se interpretasie van die Bybel.

4 Dit was telkens die reaksie van Suid-Afrikaanse mense wat uit die Jehovah-getuies gekom het (-vergelyk gevallestudies).

5 By monde van hul eie leier kan die Jehovah-getuies dus as “anti-christene” getipeer word

6 Dit is ook die rede waarom hul nie kan verstaan dat verskillende denominasies kan saamwerk en glo dat lede van ander denominasies ook die saligheid sal beêrwe, nie. Wanneer hulle wil uitkom uit die kulte is dit ook vir hulle ‘n probleem watter Christen-denominasie die een is wat “reg” is, sodat daar aangesluit kan word.

7 Tog erken groepe wat werksheiligheid verkondig soos die Jehovah- getuies terselfdertyd dat “‘n persoon nie redding deur sy werke verdien nie” (Redeneringe uit die Skrif, 1985:347). Vergelyk in die verband ook wat Hoekema sê (1963:279-285 & 381).

8 Evangelisasie is natuurlik vir die Christelike kerke ook baie belangrik. Maar die doel daarvan is nie om “lede te werf” nie, maar om mense by die verlossing in Christus uit te bring. Ook is die lidmate se ewige lewe nie afhanklik daarvan of hulle evangelisasie doen nie, maar of hul deel in Christus se soenoffer aan die kruis.

9 Die Jehovah-getuies gee wel vir die vertaling van die Bybel sekere riglyne, maar hou self nie daarby as dit hulle nie pas nie – soos later uitgewys sal word

10 Vergelyk in die verband die hele hoofstuk wat Barnard (1971:14-19) wy aan die “ou dwalings” wat as nuwe en wonderlike “ontdekkings” deur die kultes voorgehou word.

11 Mens sien die “wetenskaplike meerderwaardigheid” duidelik as mens in ‘n gesprek vir Jehovah-getuies sê mens glo in die Drie- eenheid en hulle so meerderwaardig vir jou lag en vir mekaar knipoog – nes asof jy vir hulle sou gesê het jy glo in die tandmuis of dat die aarde plat is.

12 Van Baalen (1975:379-388) gaan ook in diepte in op wat die basiese van die Christelike leer is teenoor dit wat groepe soos die kultes leer. Hy kom ook tot die gevolgtrekking dat as die belydenisse van die verskillende Christelike ondersoek word, ‘n merkwaardige ooreenstemming tussen hulle gevind word ten opsigte van die basiese leer van die Christendom.

13 As mens in die hoofkwartier van die Jehovah-getuies in Suid- Afrika, Bethel, rondloop, val dit mens op hoe almal vir jou glimlag en gelukkig lyk.

14 Hassan wys daarop dat kultes van hul lede verwag om op mekaar te spioeneer en onmiddelike enigiets wat ‘n ander lid sê of doen wat strydig is met die reëls van die organisasie te rapporteer – al is dit mede-huisgesinslede (1988:65).

4 thoughts on “Kenmerke van ‘n kulte deur Dr. HG Stoker (enkele bywerkings deur Dr. HF van Wyk).

  1. my kinders is by die cult Christ in me international betrokke en die breinspoeling is ongelooflik; hulle is twee intelligente grootmense wat hulle so laat verblind.

    • Hi Elsa – ons kan net Lief wees vir ons kinders en hul verseker dat ons altyd daar sal wees vir hulle, wanneer hul oe oopgegaan het. Ek bid elke oomblik dat my kinders verlos word van hierdie kultes. Ek het aan Xandre n e-pos gestuur met verkeie vrae (3/10/2017) maar tot vandag toe, geen antwoord ontvangs nie – 6/10/2017.

      Sterkte en groete.

      Hardy

  2. Hierdie gedeelte het my meer insig gegee en nou weet ek hoe om my drie-ling en seun te benader.

    Dankie – Baie.

    Hardy.

  3. Hi Elsa – ons kan net Lief wees vir ons kinders en hul verseker dat ons altyd daar sal wees vir hulle, wanneer hul oe oopgegaan het. Ek bid elke oomblik dat my kinders verlos word van hierdie kultes. Ek het aan Xandre n e-pos gestuur met verkeie vrae (3/10/2017) maar tot vandag toe, geen antwoord ontvangs nie – 6/10/2017.

    Sterkte en groete.

    Hardy

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*
*
Website